Pacon vereer Marcus Garvey
Pacon vereer Marcus Garvey

Pacon vereer Marcus Garvey

Windhoek beoog om een van die hoofstad se strate na die Pan-Afrika-ikoon te hernoem.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Pan-Afrikasentrum van Namibië (Pacon) sal wyle mnr. Marcus Mosiah Garvey op 26 Julie as postume Afrika-ikoon vir 2018 aanwys.

Ander helde wat voorheen met hierdie toekenning vereer is, sluit in mnre. Jackson Kaujeua, Steve Bantu Biko, Patrice Lumumba, Kwame Nkrumah en Mwalimu Julius Nyerere.

Die toekenning erken visioenêre leierskap in die totale bevryding van Afrika en sy mense.

Volgens die sentrum bring dit hulde aan individue wat menselewens geraak het en wat wêreldwyd steeds deur baie mense onthou word.

Garvey, ’n Jamaikaan, was leier van die Pan-Afrikanisme-beweging en stigter van ’n organisasie wat homself vir die bevordering van die lewens van swart Amerikaners beywer, asook van die Liga van Afrika-gemeenskappe (Unia-ACL).

Hy het die filosofie van Pan-Afrikanisme bevorder om ekonomiese bemagtiging te bereik.

Dít staan ook as Garveyisme bekend.

Deur middel van Unia sou Garveyisme uiteindelik ander aanspoor, insluitend die Nasie van Islam (NOI)- en Rastafariër-beweging, wat Garvey volgens Wikipedia as 'n profeet beskou.

Volgens Pacon is die eerste Unia-tak in 1920 in Namibië gestig, en wyle hoofman Hosea Kutako was onder andere aan die stuur daarvan.

Die sentrum beplan verskeie geleenthede om Garvey te vereer, wat ’n openbare toespraak eerskomende Donderdag deur prof. Earle Spencer Taylor, Jamaika se erekonsul in Namibië, insluit. Taylor sal sy toespraak om 18:00 by die Swapo-partyskool lewer.

Pacon sal Garvey se seun, dr. Julius Garvey, op 26 Julie verwelkom, wat die toekenning namens die Garvey-familie sal ontvang.

Die sentrum het Windhoek se munisipaliteit geloof vir hul besluit om een van die stad se strate na Garvey te hernoem.

Pacon het by die geleentheid ook onderneem om ’n memorandum van begrip met die Jamaikaanse konsulaat te onderteken.

Hierdeur beoog die twee organisasies om Namibië se kuns en kultuur in samewerking te ontwikkel sodat jongmense van albei lande bevorder word.

Volgens Pacon is Jamaika se bydrae tot Namibië se ontwikkeling en welsyn belangrik. Die sentrum sonder veral die bekende Marley-musiekfamilie as ondersteuners van Namibië uit.

Ziggy Marley en sy broers en susters, oftewel die Melody Makers, het in 1990 by die viering van Namibië se onafhanklikheid opgetree.

Namibië is in 2015 ook deur me. Shelly-Ann Fraser-Pryce, Jamaika se steratleet, besoek.

Fraser-Pryce is die enigste vrou wat al drie maal as die 100 m-wêreldkampioen gekroon is. Sy het agt dae lank deur die land getoer om jong Namibiese atlete aan te moedig.

Die Pacon-aankondiging volg op die onlangse kabinetsaankondiging dat die visumvereistes vir reis tussen Namibië en Jamaika verslap sal word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!