Pad glo met opset beskadig

Toegang na ekspo belemmer
Tanja Bause
Tanja Bause



'n Storm het in die sosiale media losgebars nadat foto's op Facebook geplaas is van 'n grondpad aan die buitewyke van Avis wat glo met opset onrybaar gemaak is in 'n poging om die Local Tourism is Lekker Ekspo en Netwerkgeleentheid by Droombos te saboteer.

Volgens mnr. Günther Henle, wat daarvan beskuldig word dat hy die pad beskadig het, het hy dit in 2006 self gebou en doen hy gereeld die instandhouding. Dit is presies wat hy Maandag ook gedoen het, sê hy.

“Ek het gedoen wat ek twee keer per maand met my pad doen. Ek grawe dit oop, haal die groot klippe uit en maak dit glad. Dit is vandag (gister) in 'n baie beter toestand as wat dit Maandag was. Ek het dit gedoen en was teen 19:00 klaar, met die pad wat so goed soos nuut was,” het hy gesê.

Volgens hom het mense in die verlede nie agtergekom wanneer hy opgraderingswerk aan sy pad doen nie, omdat daar nie so baie verkeer was nie.

“Ek het die pad vir private gebruik gebou; die hoë verkeer kom met mense wat funksies by Droombos en Vineyard bywoon. Ek kan nie aan die pad werk as daar baie verkeer is nie en dus het ek dit Maandag gedoen toe dit ietwat stiller was,” het hy gesê.

Die woordvoerder van die munisipaliteit, me. Lydia Amutenya, het bevestig die pad behoort nie aan die munisipaliteit nie en is 'n private pad op private grond.

Volgens mnr. Nrupesh Soni, een van die organiseerders van die Local Tourism is Lekker Ekspo en Netwerkgeleentheid, het hulle 'n oproep van Henle ontvang wat gedreig het om die ekspo te saboteer.

“Hy het die mede-organiseerder gebel en met sabotasie gedreig. Hy hou nie daarvan dat soveel mense daar kom nie. Die pad is nou wel reggemaak, maar daar is nog steeds groot slaggate. Die pad behoort aan die munisipaliteit en word deur die eienaar van Farm Windhoek by die stad gehuur en hy gee almal die reg om die pad te gebruik.”

Volgens me. Mirinda van der Merwe van Droombos behoort die pad aan die munisipaliteit en het Droombos, Vineyard en die Henle's reg van deurgang daarop.

“In die twee jaar wat ek hier by Droombos is, het Henle nog nooit die pad in stand gehou nie. Ons kry mense om dit te doen. Ek het al die fakture vir die werk wat gedoen is. Vanoggend was die pad vol groot klippe en dit is gedoen net om die funksie in die wiele te ry,” het sy gesê.

Volgens haar het Henle die trekkerlaaigraaf wat hy gebruik het om die pad te verniel, gisteroggend op 'n vragmotor gelaai en weggery.

Die ekspo het gister begin en duur tot môre.  – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!