Pad na WB 2023 sonder Diergaardt aangepak

Die NRU se benadering tot spelerswelsyn en kontrakte vir die spanbestuur is as besware in sy bedanking uitgelig.
Tielman van Lill
Andrew Poolman



Die bedanking van mnr. Johan Diergaardt as afrigter van die Namibiese rugbyspan, plaas die land se kwalifiserende veldtog vir die volgende Wêreldbeker opnuut voor 'n ontsaglike uitdaging.

Diergaardt se bedanking, tesame met Namibië se onlangse weglating uit die Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisiestruktuur, is die nuutste terugslag vir die nasionale span vir wie bykans alle momentum verlore is wat onder sy voorganger, Phil Davies, se opbou na die 2019 Wêreldbeker in Japan bereik was.

Diergaardt is in Maart vanjaar aangestel, maar die Covid-19-pandemie het sport wêreldwyd tot stilstand gedwing en Namibië het gevolglik nog geen toetsrugby (of selfs klubrugby) sedert die 2019 Wêreldbeker in Japan gespeel nie. Oor die toekomstige program hang steeds 'n wolk.

'n Vertrouensbreuk met die administrasie van die Namibië Rugby-unie (NRU) het egter oor die laaste tyd ontwikkel, sê Diergaardt.

“Ek het my bedankingsbrief wat aanvanklik op 25 November ingedien is, deur 'n prokureur laat opstel. Die daaropvolgende onderhandelinge het misluk en die NRU het Maandag finaal my bedanking aanvaar.

“Die NRU se versuim om ­kontrakte vir die nasionale spanbestuur op te stel, tesame met voortslepende frustrasie met aspekte van die welsyn van spelers, is van die belangrikste redes vir my bedanking.

“Ek is reeds vir 11 maande op 'n ­kontrakgrondslag by die NRU se ­nasionale groep betrokke.

“Ek het onlangs 'n operasie vir 'n knievervanging ondergaan en terwyl ek in die hospitaal was, het ek 'n betaling van net 25 persent van 'n reeds besnoeide vergoeding ontvang. Hierdie verandering is eens nie vooraf onder my aandag gebring of bespreek nie.

“Nadat ek my bedanking ingedien het, is ek versoek om my bedanking te onttrek en gesê om boonop om verskoning te vra, wat vir my 'n baie vreemde versoek is.

“Daar is te veel uitstaande kwessies waarmee vorentoe en agtertoe gesukkel word, sonder oplossings. Spelers ontvang nie eens taxigeld om die ­oefeninge twee maal per dag by te woon nie.

“Eers nou dat Rugby Afrika met 'n toelaag vorendag gekom het, word daaglikse etes darem aan die spelers voorsien. Ek moes ook persoonlik die onderhandelinge deurvoer sodat die nasionale groep toegang tot 'n gim­nasium kon verkry.”

Volgens Diergaardt het die NRU ook die aanvanklike ooreenkoms verbreek dat die hoofafrigter sekere van sy assistente kon aanstel. Die boodskap is byvoorbeeld onlangs oorgedra dat sy aanwysings soos Chrysander Botha (verdedigingsafrigter), David Philander (agterlynafrigter) en Casper Viviers (voorspelers) van nuuts af vir dié poste sal moet aansoek doen.

Diergaardt, wat reeds in 2010 en 2011 die nasionale afrigter en voor dit 'n nasionale keurder was, sê hy sal waarskynlik nou uit alle betrokkenheid by rugby-afrigting tree.

“Ek wens die NRU voorspoed toe en hoop dat hulle 'n professionele afrigter sal bekom wat almal se goedkeuring en ondersteuning kry. Daar is 18 maande oor voordat Namibië se deurslaggewende toetse vir kwalifisering vir die 2023 Wêreldbeker aanbreek, wat hopelik genoeg tyd is. Laat hulle maar 'n jonger persoon kry wat kans sien vir die pad vorentoe.

“Dit was my, en ons almal se droom dat Namibië twee wedstryde by die volgende Wêreldbeker kan wen, maar ná Maandag se loting weet ons dit gaan bitter moeilik wees.”

Frankryk, as gasheerland vir die 2023-skouspel, is in groep A saam met Nieu-Seeland, Italië en die topkwalifiseerders van Afrika (moontlik Namibië) en die Amerikas geplaas.

Diergaardt sê: “Ek het geen begeerte om in 'n twis met die NRU ­betrokke te raak nie, maar ek het ook niks om weg te steek nie en alles wat ek jou vertel het, is die waarheid.

“Met die vertrouensbreuk en die gesindheid wat ek van die NRU ondervind het, is daar net te veel onsekerheid en ek is nie bereid om so voort te gaan nie.”

• Die NRU-president, mnr. Corrie Mensah, sê hy wil hom nie uitspreek oor die beweegrede agter Diergaardt se besluit nie.

“Ek sal hom liewer wil onthou vir sy goeie bydraes tot Namibiese rugby en wil hom dus ook daarvoor bedank. Verder wens ek hom sterkte toe in sy pad vorentoe.

“Ons dink nog nie aan 'n plaasvervanger nie, maar sal in Januarie in oorleg met Wêreldrugby hieroor besin. Een opsie sal seker wees om na die ander kandidate te kyk wat met hom om die pos meegeding het. ­Alternatiewelik, om 'n vars proses te begin.”

• Tydens Diergaardt se aanstelling in Maart is bekend gemaak dat die ander drietal op die NRU se kortlys almal buitelanders was, naamlik Jonathan Mokuena (uitgetrede Blitsbokkaptein wat vir Pukke en Noordwes Luiperds afgerig het), Wilbur Kraak ('n klubafrigter in die Kaap) en Antonio Aguilar (voormalige nasionale sewesafrigter van Portugal).



KENIA BEKLINK HARDING

Die Australiër Peter Harding, wat tot verlede jaar aan die NRU verbonde was, is voor die naweek deur die Kenia Rugbyunie (KRU) as hoëprestasiekonsultant bekend gestel.

Wêreldrugby het Harding vir 'n verlengbare drie maande in Kenia geplaas. Hy sal die Oos-Afrikane se nasionale groepe help bystaan, spesifiek die vrouesewesspan vir die 2021 Olimpiese Spele.

Hy sal Kenia ook bystaan in die opstel van die voorlegging van sy hoëprestasieprogram aan Wêreldrugby, het die unie op sy webblad aangekondig.

Harding het gesê: “Kenia het twee wêreldklas sewesspanne wat volgende jaar Olimpiese Spele toe gaan. Die jaar daarna het die mans 15-span 'n kans om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer. Ek is opgewonde om enige bystand te lewer wat ek kan. Daar is 'n werklike geleentheid om Kenia op die rugbykaart te plaas, beide in sewes en 15-rugby.”

Die KRU het Wêreldrugby en Rugby Afrika bedank vir die volgehoue steun om 'n hulpbron van Harding se kaliber en ondervinding tot hul beskikking te stel.



 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!