Paddas brul ná goeie reën
Tanja Bause
Talle poele in Namibië is vol grootbrulpaddas (Pyxicephalus adspersus) wat besig is om te paar ná die goeie reën wat die afgelope ruk geval het.
Die paddas was maande lank onaktief onder die grond.
In die noorde van die land word dié paddas as 'n delikatesse beskou en word hulle langs die straat en by openbare markte verkoop.
Die brulpadda is die grootste padda in Namibië en een van drie paddaspesies wat tande het.
As die padda gepla word of bedreig voel, sal hy homself opblaas, aanval en byt.
Volgens mnr. Alfred Schleicher, hoof van die herpetologiese afdeling van die Wetenskaplike Vereniging van Namibië (NWG), is mense dikwels verbaas wanneer hulle agter 'n brulpadda aanloop en hy ná 'n paar spronge omdraai en teen die persoon se skeen spring en boonop nog byt.
In die noorde van die land word die hele padda (efuma) geëet en nie soos in Frankryk waar net die bene geëet word nie. Die padda se vel en organe bevat egter gifstowwe wat tot tydelike nierversaking en 'n brandende gevoel in die uretra kan lei. Jong paddas wat nog moet paar, is veral giftig.
Die paddas begin onmiddellik ná die reën paar en die wyfie kan tot 3 000 tot 4 000 eiers op 'n slag lê.
Die paddavissies broei ná twee dae uit en begin onmiddellik op plante, klein vissies en selfs op mekaar voed.
VLEISVRETERS
Die paddavissies se metamorfose begin binne drie weke en die mannetjie bly in die poel en pas hulle op. Hy is oorbeskermend en byt alles wat hy as 'n gevaar sien. Hy pas die paddavissies op totdat hulle oud genoeg is om vir hulself te kan sorg, alhoewel hy sommige ook opvreet.
Brulpaddas eet enigiets van rotte, muise, klein voëls, insekte, krappe, slakke, asook ander paddas.
Volgens Schleicher moet alle grootbrulpaddas 'n koel en klam holte grawe voordat die grond te droog en te hard word.
“Net so is die padda in staat om die soms lang droogtetye te oorleef. Die groot paddas kan hulself tot tussen 50 cm en 150 cm in die nat grond ingrawe. Klein diere kruip dikwels weg in sanderige gate van tussen 20 cm en 30 cm diep, maar dit hang af waar hulle voorkom, hoeveel dit reën en hoe gereeld dit reën,” het hy gesê.
“Dit is fassinerend dat die paddas eers weer ná die eerste goeie reën aktief raak. Wanneer hulle dan uitkom, het hulle 'n ongelooflike aptyt en vreet alles wat voorkom, onder meer ook klein waterskilpaaie en slange,” sê Schleicher.
Die mannetjies weeg ongeveer 1,5 kilogram, maar hulle kan ook tot 2 kg weeg. Hulle kan 'n lengte van tot 24 cm bereik. Die wyfies is die helfte van dié grootte wat ongewoon vir amfibiese spesies is, waar die wyfie gewoonlik groter is.
'n Lewensduur van 20 jaar is algemeen, hoewel hulle tot 45 kan word.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie