Padgebruik al duurder
Padgebruik al duurder

Padgebruik al duurder

Die Padfondsadministrasie (RFA) het ’n 4,3%-verhoging op padgebruik aangekondig, wat van 1 Mei af geld.

Dit beteken tariewe by grensposte verhoog, asook tariewe op voertuie wat buitelands geregistreer is.

Wanneer Namibiese paaie gebruik word, moet eienaars en bestuurders van voertuie wat in die buiteland geregistreer is, die RFA-kantoor by die onderskeie Namibiese grensposte besoek om die nodige vorms te voltooi, die verpligte bedrag te betaal en die meegaande permit te bekom.

Motorfietse, karavane en ligte sleepwaens sal N$196 uit die sak gejaag word, terwyl sedan-eienaars N$242 sal moet opdok.

Die tarief vir bakkies en minibusse met tot 25 passasiers is N$308, en die bestuurders van kleiner afleweringsvoertuie sal N$644 moet hoes.

Vir swaar voertuie soos busse en enkeleenheidlorries beloop tariewe N$727 of N$923 elk, afhangende van hul massa.

Trokke met waens sal tussen N$727, N$923 of N$1 763 betaal, afhangende van die voertuigmassa.

Dit sal spesiale padbouvoertuie N$2 561 elk kos om die grens oor te steek.

Ander voertuie wat nie op die lys verskyn nie, sal N$489 moet opdok, terwyl die permit vir gereelde gebruikers nou N$434 beloop.

Alle Namibiese voertuie en voertuie wat in die buiteland geregistreer is met ’n drakrag bo 3 500 kg moet reisafstands- en gewigsfooie betaal – dít omdat swaarvoertuie meer skade aan die pad aanrig.

Van eienaars en bestuurders van hierdie swaarvoertuie word verwag om afstande aan te meld en rekord te hou van vrag wat hulle deur die jaar vervoer.

Die RFA bereken jaarlikse kostes en reik lisensies uit wanneer alle uitstaande skuld betaal is. Voertuie wat die wet oortree, kan op die toneel met tot N$4 000 beboet word.

Fooie gehef op abnormale vrag, jaarlikse voertuiglisensies, registrasiefooie en brandstofheffings is ook hierby ingesluit.

Brandstofheffings word outomaties by brandstofpryse ingesluit, terwyl voertuiglisensies en registrasiefooie by die Namibiese Verkeers- en Inligtingstelsel (NaTIS) se kantore landswyd betaal moet word.

Die nuwe tariewe kan by die RFA-kantoor aangeskaf word, of besoek [email protected] vir meer inligting.

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 29° Ruacana: 21° | 28° Tsumeb: 20° | 29° Otjiwarongo: 21° | 26° Omaruru: 22° | 31° Windhoek: 21° | 26° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 23° | 30° Mariental: 25° | 30° Keetmanshoop: 23° | 33° Aranos: 24° | 32° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 23° | 29° Oranjemund: 15° | 26° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 26° Maputo: 24° | 33° Windhoek: 21° | 26° Cape Town: 18° | 24° Durban: 21° | 29° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!