Padheffings met 7% op
Padheffings met 7% op

Padheffings met 7% op

Die Padfondsadministrasie vra die regering om miljarde oor die volgende vyf jaar by te dra.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die Padfondsadministrasie (RFA) se uitvoerende hoof, mnr. Ali Ipinge, het Dinsdag 'n 7%-verhoging van padheffings aangekondig.

Dit sluit in: Jaarlikse voertuiglisensies, voertuigregistrasiegeld, oorgrensheffings, massa-afstand- en reisafstandheffings, abnormale vrag-heffings en brandstofheffings.

Dié stygings het op 1 Mei in werking getree.

Ipinge bestuur dié reusefonds wat vir die 2016-'17-boekjaar inkomste van N$2,34 miljard ontvang het om die land se nasionale padnetwerk van meer as 47 000 kilometer te onderhou en ontwikkel. Tot 80% van die RFA se jaarlikse uitgawes gaan aan die Paaieowerheid (RA), wat padwerk bepaal - vanjaar was dit sowat N$1,8 miljard. Oor die volgende vyf jaar vanaf 2018 tot 2022 verwag die RFA om N$13,7 miljard in te samel, sowat N$2,74 miljard per jaar. Desondanks is die verwagte koste van nodige padwerk vir dieselfde tydperk N$16,7 miljard, wat 'n tekort van N$3,1 miljard laat, volgens Ipinge.

Die huidige verhoging van heffings is bloot in reaksie op inflasie, sê hy.

Met die jaarlikse toename van tussen 7% en 8% van voertuie op Namibiese paaie en die natuurlike veroudering van paaie, benodig die RFA nog N$170 miljoen per jaar om die netwerk in stand te hou.

Om oor die volgende vyf jaar op die verbetering van grondpaaie te kan fokus en die aantal eenhede vir grondpadherstelwerk van vier tot agt te vermeerder, benodig die RFA 'n bykomende N$150 miljoen per jaar.

Die koste van pad- en grondwerk in die streek styg jaar na jaar met 6% en 8%.

Die RFA se vyfjaarsakeplan tot Maart 2022 behels: Lesse geleer van die tegniese hulpprojek waarmee ondersoek gedoen is na die behoeftes rakende padwerk in plaaslike owerhede; noue samewerking met die regering om vennootskappe oor padwerk tussen private maatskappye en munisipaliteite aan te moedig; die hersiening van huidige padheffings; en om boetes vir padoortredings te probeer invorder om sodoende oortreders vir herstelwerk te laat betaal.

RFA sal ook die toekenning van finansiering aan plaaslike owerhede hersien, die administrasiekoste van beide die RFA en die RA verminder, fokus op die volhoubaarheid van paaie (veral grondpaaie), prestasies teen dié van buurlande meet, meer openbare-private-vennoot­skappe (PPP's) aangaan en meer geld probeer insamel deur die boetes op padoortredings gehef.

Nietemin sê Ipinge die geld wat deur padheffings ingesamel kan word, sal nie genoeg wees nie. Vir die RFA om aan sy wetlike verpligting tot 'n veilige en doeltreffende padnetwerk te voldoen, sal die regering verantwoordelikheid vir die geldtekort moet neem, sê hy.

Die RFA sal vanaf die volgende boekjaar vir die volgende sorg: Die RFA-administrasie; die onderhoud van die nasionale padnetwerk; bydra tot die onderhoud van dorpstrate, bydra tot verkeerswethandhawing, die bedryf en finansiering van die Namibiese verkeersinligtingstelsel (NaTIS), bydra tot die Nasionale Padveiligheidsraad (NRSC); en die delging van die KfW-lening wat gebruik is vir 'n deel van die uitbreiding aan die Windhoek-Okahandja-pad, volgens Ipinge.

“'n Pluspunt is dat die RFA-rekening oor die laaste drie jaar opgebou is om te verseker ons bestee slegs wat ons ingesamel het,” sê hy. Wat oorbly, word vir noodgevalle opsy gesit.

“Ons het dus 'n gesonde reserwe opgebou en weens die trae ekonomie en regeringsinkomste het ons, toe die aandeelhouer ons genader het om te help, laas November en Desember besluit om kritieke padprojekte te ondersteun. Ons het N$320 miljoen gegee en die RA N$130 miljoen van sy begrotingspaargeld - dus N$450 miljoen altesaam. Maar ek sou dit nie as 'n reddingsgordel beskryf nie,” het hy op 'n vraag van die media geantwoord.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!