Padstal-kultuur vat pos
’n Nuwe padstal by Kappsfarm lewer plaasvarsprodukte aan verbruikers in die omgewing.
Ronelle Rademeyer - As jy al ’n langpadvakansie in Suid-Afrika onderneem het, sal jy die heerlike bederf van ’n padstal langs jou roete ken.
Hoewel Namibië nie naastenby so baie padstalle soos sy suidelike buurman het nie, begin dié kultuur al meer posvat en bied dit ’n nuwe bemarkingskanaal vir boere uit die omgewing om hul produkte aan verbruikers te lewer. Dink maar aan Wilhelmstal waar daar deesdae twee padstalle aan weerskante van die Okahandja-Karibib-pad geleë is.
Op die roete tussen Keetmanshoop en Grünau kom motoriste die gewilde Kitchen 52 teë, met ander padstalle wat nader aan Grünua 'n stilhou-opsie bied.
Wat sou die langpad wees sonder ’n fles boeretroos, 'n versameling lekkerluister-liedjies en ’n padstal wees waar jy kan bene rek en allerlei kontreikos en plaaskombuis-produkte koop? Van varsgebakte brood, pasteie, biltong, droëwors, ingelegde produkte, tuisgemaakte gemmerbier, lemonade en die lekkerste soetgebak word saam met handvlyt en selfs kunswerke uit die omgewing verkoop. En dan is daar natuurlik ook vars groente, vrugte, melk, kase, jogurts en spesialiteitsvleisprodukte vanaf plase in die omgewing.
Op 1 Maart het daar net buite Windhoek by Kappsfarm ook ’n padstal geopen – Kapps Farm Stall.
Dit behoort aan Chris Sandmann en sy Russiese vrou, Anastasia, wat naby die Ural-gebergte by Chelyalinsk grootgeword het. Die twee van hulle het mekaar 9 jaar gelede via die internet leer ken.
Dié padstal, vertel die Sandmanns, is tans hulle lewensaar. Chris is in die toerismebedryf en sy motorverhuringsmaatskappy doen sedert die staat van inperking afgekondig is, geen sake nie.
Anastasia sê sy wou nog altyd ’n padstal en ’n kafee gehad het. Min het hulle geweet toe die padstal op 1 Maart geopen het, wat vir die land en sy mense voorlê en tot hoe ’n mate hulle padstal ook vir die plaaslike gemeenskap ’n uitkoms sou wees.
“Tydens die grendeltyd het baie mense in die omgewing eerder by ons aankope gedoen as om in te ry stad toe,” sê sy en beduie na die leefstyllandgoedere Finkenstein en Herboth’s Blick ’n ent daarvandaan.
Van die produkte kom uit die onmiddelike omgewing, soos tuisgebakte brode en eiers, terwyl sy ook by boere elders in Namibië suiwelprodukte, groente, vrugte en heuning aankoop.
Daar is ook heelwat ingelegde produkte, asook matte wat van Swakara-wol geweef is en vellies van robleer wat op Hentiesbaai gemaak word.
Verder het sy ’n goed ingerigte kombuis en stuur elke dag op haar WhatsApp-groep die spyskaart van die dag vir die lede aan, wat almal mense in die omgewing is.
Hulle verkoop ook braai-etes aan die lorriedrywers wat by die padblokkade by Kappsfarm stilhou. Die polisiemanne en weermaglede wat die padblokkade beman, is net so opgewonde soos die mense in die omgewing oor die heerlike maaltye wat daagliks beskikbaar is.
Vroeg in Julie wil sy onder die bome by die padstal ’n kafee inrig waar mense kan aansit om ontbyt en middagete te bestel. Anastasia wil ook met ’n maandelike plaasmark begin waar boere stalletjies kan huur om hulle produkte te verkoop.
Die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher, sê hiperplaaslike bemarking is ’n nuwe bemarkingsbenadering wat op ’n kleiner getal verbruikers in ’n spesifieke gebied fokus.
Dié tendens wen wêreldwyd veld omdat verbruikers van die kwaliteit en integriteit van die produkte hou.
Hy sê verskeie plaaskombuise kan saamspan om produkte by padstalle af te lewer. “Kosroetes kan ontwikkel word om van plaas tot plaas, of gebeid tot gebeid te reis,” sê hy.
"Vroue van plaaswerkers kan ook opgelei word om te help met die produksie van kos en ander produkte. As die vaste koste reg bestuur word, is dit vir die padstaleienaars, leweransiers en verbruikers is aanwins."
Die Boer beplan ’n reeks artikels oor padstalle in Namibië. Stuur vir ons inligting oor jou padstal na [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie