u2018Padtoeriste onwettigu2019
u2018Padtoeriste onwettigu2019

‘Padtoeriste onwettig’

Die gesondheidsminister sê toeriste wat Namibië padlangs ingekom het, het die land onder valse voorwendsels binnegekom.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Ná chaos die naweek by padgrensposte uitgebreek het, hou die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, voet by stuk dat buitelandse toeriste slegs Namibië via die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) en Walvisbaai-lughawe mag binnekom.

“Regulasies het nooit verander nie. Sedert Maart was toeriste nie toegelaat om Namibië binne te kom nie. Vanaf 1 September was toeriste slegs in Namibië via HKIA en Walvisbaai-lughawe toegelaat,” sê Shangula in ’n WhatsApp-boodskap op navraag van Republikein.

Op die vraag waarom toeriste vanaf 1 Oktober uit Suid-Afrika padlangs via Noordoewer en Ariamsvlei kon inkom, het Shangula geantwoord: “Dit beteken hulle het onder valse voorwendsels deurgekom en ons het dit opgemerk. Dit was onwettig.”

Hy sê “ons monitor die epidemiologiese koers en reageer daarvolgens. Die publiek sal soos gewoonlik ingelig word.”

Die skielike sluiting van grensposte padlangs vir buitelandse toeriste “is ’n absolute gemors en baie frustrerend,” het die uitvoerende hoof van die Professionele Jagtersvereniging van Namibië (Napha), me. Tanja Dahl, gister gesê.

“Die gesondheidsministerie weet nie wat hulle aan die inkomste van die toerismebedryf doen nie. Daar is geen daadwerklike ondersteuning van die regering vir toerismeherlewing nie.”

BUSDIENSTE GESTAAK

Die sekretaris-generaal van die Namibië Openbare Passasiersvervoervereniging (NPPTA), mnr. Nathan Africa, sê busdienste na Suid-Afrika is gestaak.

“Namibiërs kan padlangs na Suid-Afrika reis, maar nie Suid-Afrikaners na Namibië nie. Ons moes soos Intercape alle busdienste staak,” sê Africa.

Hy meen die eenrigtingverkeer is die kool die sous nie werd nie, alhoewel “daar ’n groot aanvraag is”.

Mnr. Hilmar Beukes van Beukes Transport van Rehoboth het gesê hy het Vrydag geen probleme by die grensposte ondervind toe hy passasiers Upington toe vervoer het nie.

“Sondagoggend moes ek twee Suid-Afrikaanse passasiers by die Nakop-grenspos in Suid-Afrika aflaai wat nie verder na Namibië mag gereis het nie.

“Op Ariamsvlei het ’n Suid-Afrikaner gesoebat om deur te gaan, want sy familielid lê op sterwe op Bethanie. Ander was op pad Hentiesbaai toe vir vakansie, maar hullle is nie deurgelaat nie,” sê Beukes.

“Toe ek om 06:00 by Ariamsvlei met vier Namibiese passasiers aankom, is ek belet om verder te ry. Die vier passasiers is agterop ’n bakkie sonder ’n matras gelaai en via Noordoewer na Rosh Pinah vir kwarantyn geneem,” vertel Beukes.

“Een passasier is ’n hartlyer en moes medikasie op Karasburg kry en op Grünau is geweier dat hulle toilet toe mag gaan of kos koop.

Beukes en sy mededrywer, mnr. Charles de Klerk, was gister tot voor 17:00 op Ariamsvlei gestrand, asook nog ’n Namibiese bus, Abel Transport.

“Ek is nie gepla oor kwarantyn nie, maar versoek dat ek in my dorp Rehoboth onder kwarantyn geplaas word. Ek neem nie Covid-19 ligtelik op nie en ek gaan nie my gesin in gevaar stel nie,” het Beukes gesê.

Hy sê hy moes skriftelik aansoek doen om op Rehoboth in kwarantyn te wees.

“Ons as busdrywers het geen ondersteuning nie. Ek het vir ses maande nie werk gehad. Dit was nou die eerste keer wat ek weer as oorgrensbestuurder kon ry, en nou gebeur dit!” sê ’n ontstoke Beukes.

Pogings om die grensposte van Noordoewer, Ariamsvlei, Oshikango en Wenela te probeer kontak, was gister onsuksesvol en telefone het onbeantwoord gebly.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!