Padwerke goed op dreef, sê RA

'Alle konstruksieprojekte gaan voort.'
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die Paaieowerheid (RA) het ontken dat daar sedert die begin van die jaar enige onderbrekings in groot padkonstruksieprojekte was.

Die RA se hoof uitvoerende beampte, mnr. Conrad Lutombi, sê daar is voldoende finansiering om multimiljarddollar-projekte betyds te voltooi.

Desondanks is talle anonieme oproepe van rolspelers ontvang wat kla oor laat- of wanbetalings en die gevolglike vertragings wat dit veroorsaak.

Bronne beweer bouwerk aan die tweede fase van die pad wat tussen Windhoek en Okahandja deur die Namibiese maatskappy Otesa Civil Engineering en die Italiaanse maatskappy C.M.C. Ravenna gebou word, het weens uitstaande betalings later as geskeduleer begin. Dié fase beloop N$1, 085 miljard.

Lutombi ontken dit.

“Die feit van die saak is dit is ’n regeringsprojek. Sedert onafhanklikwording is daar nie een projek wat die regering aangepak het wat net so laat vaar is nie, veral nie ’n kritieke projek soos dié pad nie,” het hy gesê.

“Daar is operasionele kwessies en dit word binne die grense van die projek hanteer.”

’n Direkteur van Otesa, mnr. Elmo Kaiyamo, het ook volgehou daar was in geen stadium enige onderbreking van die projek nie. Hy het gesê werk het tot 16 Desember voortgegaan en is weer in Januarie hervat.

Kaiyamo het wel erken werk het in Januarie redelik stadig op dreef gekom, aangesien dit tyd neem vir ’n groot waardeketting om te mobiliseer.

DR3609

Republikein ontvang ook sedert Junie oproepe oor ’n beweerde afskaling van werk op die DR3609-pad tussen Oshakati en Omungwelune na Onenga weens wanbetaling.

Die werkersmag is hier van 145 tot 15 verminder.

Dié projek van 37 km word deur die Chinese firma Zhong Mei Engineering teen ’n bedrag van N$216 miljoen gedoen. Lutombi het erken N$46 miljoen moes teen 19 Januarie betaal gewees het, en het gesê dit sal binnekort gebeur.

Lutombi het gesê aangesien die werk aan hierdie projek reeds 95% voltooi is nadat dit in April 2015 begin is, is dit nou minder werkintensief as toe grondverskuiwing en ontbossing aanvanklik gedoen moes word.

Hy het erken daar was ’n paar vertragings, maar het dit toegeskryf aan uitgerekte en ingewikkelde onderhandelinge met gemeenskappe in die dorpe waardeur die pad gebou word.

Lutombi het gesê die kontrakteurs het die reg om op te hou werk as daar onnodige laatbetalings is. Hy het wel benadruk die RA moet kontrakteurs binne 56 dae betaal nadat tussentydse betalingsertifikate ingedien is.

Sou ’n betaling nie gemaak word nie, moet die kontrakteur kennis gee dat hy binne 21 dae sy reg gaan uitoefen om werk te staak of die werktempo gaan verminder.

ONGEMAGTIGDE PROJEKTE

Bronne hou vol betalings word stadig gemaak omdat die RA te veel projekte namens die regering aangepak het.

Dit word aan ’n gebrek aan goeie bestuur en beplanning toegeskryf.

“Geen projek kan aangepak word sonder die versekering van finansies nie,” het 'n anonieme bron gesê.

“Op die oomblik het die RA baie skuld wat die hoof uitvoerende beampte (Lutombi) openlik ontken.”

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het op 19 Januarie gesê daar is nie begroot vir of goedkeuring verleen aan talle groot padkonstruksieprojekte nie. Dit sluit in die meer as N$1 miljard tweede fase van die pad tussen Windhoek en Okahandja; die N$900 miljoen-pad tussen Windhoek en die Internasionale Lughawe Hosea Kutako; en die pad tussen Uis, Khorixas en Kamanjab.

Die RA se betrokkenheid by hierdie projekte het die regering genoop om sowat N$450 miljoen van die Padfondsadministrasie (RFA) te bekom om betaling vir eersgenoemde se projekte te verseker. Tog is geen voorsiening daarvoor in die RFA se vyfjaarsakeplan vir die tydperk tussen April 2017 en Maart 2022 gemaak nie.

Die sakeplan maak slegs voorsiening vir nuwe ontwikkelings, rehabilitasie en instandhouding.

Sover dit Lutombi betref, was die RFA veronderstel om ook voorsiening vir “ekonomiese paaie” te maak.

“Die enigste rede hoekom die RFA net instandhouding dek, is omdat die invordering van inkomste gering is,“ het hy gesê.

Schlettwein het gewaarsku hy sou artikel 17 van die Wet op Finansies oproep en die staat dus nie vir enige verdere ongemagtigde uitgawes sou betaal nie.

Volgens Lutombi het die RA “onder die RFA se begroting” voorsiening vir betalings gemaak.

“Sover dit hierdie boekjaar betref (wat einde Maart afsluit), het ons nie ’n probleem nie. Die werk sal tot April voortgaan. Die vraag is of ons fiansiering vir die volgende boekjaar het. Ons het wel vir die komende boekjaar vir RFA-finansiering beplan,” het Lutombi gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!