Padwoedevoorval lei tot inhegtenisneming

Sosiale media gons oor video
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die bestuurder van ’n bakkie wat Dinsdag skynbaar doelbewus by die Wika-diensstasie in Windhoek agter in ’n sedanmotor vasgery het, is kort daarna aangekeer en sal vandag in die Windhoekse landdroshof verskyn.

Dit volg nadat die voorval op kringtelevisie vasgevang is en toon hoe die sedanmotor die diensstasie binnery, met die bakkie kort op sy hakke. Die bestuurder van die sedanmotor spring uit, terwyl die bakkie die sedan eers skrams aan die regterkant tref.

’n Vroulike passasier probeer dan uit die bakkie klim, terwyl die bestuurder die bakkie in trurat sit voordat hy vorentoe ry en die sedanmotor vol teen die agterkant tref. Die vrou wys na die bestuurder van die sedanmotor en sê skynbaar iets voordat sy terugklim in die bakkie en hulle die toneel verlaat.

Die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinspekteur Kauna Shikwambi, het die voorval bevestig en gesê die 24-jarige bestuurder van die sedanmotor het ’n klag van kwaadwillige beskadiging van eiendom en rassediskriminasie aanhangig gemaak.

“Volgens hom het hy net sy motor by die diensstasie parkeer, waarna die voorval plaasgevind het. Hy het ook gesê die vrou het ‘n rassistiese opmerking gemaak voordat sy terug in die bakkie geklim het. Die polisie het die registrasienommer van die bakkie nagespoor en die eienaar omstreeks 20:00 dieselfde dag by sy huis in Khomasdal in hegtenis geneem,” het sy gesê.

Volgens die eienaar van die Wika-diensstasie, mnr. Nick du Preez, was die polisie binne minute ná die voorval op die toneel. Hy sê niemand by die diensstasie het gesien wat tussen die twee motorbestuurders gebeur het en wat tot die insident gelei het nie. Die bestuurder van die bakkie was egter duidelik woedend.

Du Preez sê die videomateriaal en alle ander bewysstukke is aan die polisie oorhandig.

“Ek is net bly geen eiendom is beskadig nie en dat geen mense en geen van my personeel of kliënte seergekry het nie, want dan sou ek ook moes optree,” het Du Preez gesê.

Intussen is die video van die voorval wyd op sosiale media versprei en het die beweerde rassevoorval tot ’n hewige aanlyn debat gelei. Sommige Facebook-gebruikers beweer die bestuurder van die sedanmotor het voor die bakkiebestuurder ingedruk of die bakkie met ’n koeldrankblik gegooi en dat dit die vonk in die kruitvat was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!