Pakistan, Indiu00eb: Konflik laat die wu00eareld sidder
Pakistan, Indiu00eb: Konflik laat die wu00eareld sidder

Pakistan, Indië: Konflik laat die wêreld sidder

Leopold Scholtz - Wanneer twee olifantbulle dreigend teenoor mekaar trompetter, is dit die gras waarop hulle staan wat sidder. Wanneer die twee ook nog kernwapens het, is dit die hele wêreld wat kan sidder.

Dís wat tans gebeur in die konfrontasie tussen Pakistan en Indië.

Die onmiddellike aanleiding was 'n selfmoord-terreuraanval twee weke gelede op 'n militêre basis naby die grens waarin 42 Indiese soldate dood is. Volgens Indië was die terroris 'n lid van 'n Moslem-fundamentalistiese organisasie, Djaïsh-e-Mohammed, wat vanuit die Pakistanse kant van die grens opereer.

Indië het toe wraak geneem deur lug­aanvalle op 'n beweerde opleidingskamp van die organisasie. Indië sê “baie terroriste” is dood; Pakistan sê sy verdediging het die Indiese bomwerpers laat vlug en dat hul bomme in leë bosse geval het. ­Televisiebeelde wys wel dat minstens een Indiese MiG-21-vliegtuig neergeskiet is.

Onder die oppervlak gaan dit om veel meer as terreur. Sedert die skeiding van Brits-Indië in 1947 was daar al verskeie oorloë tussen die twee lande, en dit kos nie veel om die spanning hemelhoog op te jaag nie. Dit gaan veral oor die provinsie Kasjmir, wat deur albei opgeëis word.

Die meeste inwoners van Kasjmir is Moslems. Maar die maharadjah van Kasjmir in 1947 was 'n Hindoe, en hy het gekies dat sy domein deel van Indië word.

'n Aanbeveling van die ­Verenigde Nasies dat 'n referendum gehou word, is geweier, en die gevolg was groot­skaalse botsings. Uiteindelik is die gebied tussen die twee lande verdeel, maar albei maak steeds aanspraak op die hele provinsie.

Die groot vraag is natuurlik: Wat nou? Dit kos maar één verkeerde besluit, 'n enkele ongeluk, en die twee lande spring weer aan mekaar. Voeg hierby dat albei oor tientalle kernwapens beskik, en dit word duidelik dat dit die potensiaal van 'n yslike ramp het.

SAMESPREKINGS HOU

Die vroeë tekens is dat albei ­politieke leiers dit besef. Die Pakistanse premier, die oudkrieketspeler Imran Khan, het op 'n nuuskonferensie gesê dis nie in sy land se belang dat die rusie verder eskaleer nie.

Hy het dus voorgestel dat hy en sy Indiese ampsgenoot, Narendra Modi, so gou moontlik samesprekings hou.

Modi lyk ook nie lus vir 'n vol­skaalse oorlog nie. Maar 'n afgetrede Indiese diplomaat, Lalit Mansingh (wat glo goed ingelig is), het dit duidelik gestel dat Indië 'n “rooi lyn” teenoor ­Pakistan getrek het en dat die Indiese beleid van “strategiese terughoudendheid” verby is.

Dis nie duidelik hoe sterk Khan in die Paki­stanse politiek staan nie.

Tradisioneel is die politieke invloed van die Pakistanse weermag ongesond groot, en dit kan Khan se ­beweegruimte beperk.

Terselfdertyd word Modi, as hoof van 'n nasionalistiese party, ook deur ekstremiste onder druk gehou.

Die potensiaal vir 'n ramp is dus ­aanwesig. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!