Pandemie bedreig Leeu-toer
Pandemie bedreig Leeu-toer

Pandemie bedreig Leeu-toer

Rugby
Ondanks onsekerheid of die Britse en Ierse Leeus-toer later vanjaar sal voortgaan, is die Bok-bestuurspan kliphard op soek na teenstanders wat die Springbokke kan help voorberei.

Ná 'n berig in die Daily Mail dat die toer tot 2022 uitgestel kan word weens die stygings in Covid-19-gevalle in Brittanje, Ierland en Suid-Afrika, het die Leeus 'n verklaring uitgereik waarin hulle sê 'n vroegtydige besluit oor die toer sal geneem word.

“Die Leeus-raad het tot op hede verskeie vergaderings gehad om die beskikbare scenario's te bespreek,” sê Ben Calveley, die Leeus se besturende direkteur.

“Die raad sal deur Januarie, en selfs tot in Februarie indien nodig, vergader.

“Ná verdere konsultasie met SA Rugby, sal ons eersdaags die uitkomste van dié vergaderings deel.”

Die Daily Mail het berig dis nie 'n opsie om die reeks aan te bied in stadions sonder toeskouers nie aangesien die toerpakkette soos soetkoek uitverkoop het. Die feit dat Suid-Afrika eers in die tweede kwartaal van die jaar 'n entstof kan kry, asook reisbeperkings wat dalk ingestel kan word, plaas 'n nuwe demper op die toer.

'n Hooggeplaaste in SA Rugby het aan Netwerk24 gesê die Daily Mail se berig is “alarmisties”.

Rapport se inligting is egter dat die uitstel van die toer beslis een van die opsies op die tafel is.

Intussen sê die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, en die Bok-spanbestuurder, Charles Wessels, is tans besig om te ondersoek wie die beste moontlike teenstanders vir Suid-Afrika sal wees op die vooraand van die toer.

Nienaber, wat ná verlede jaar se Wêreldbeker-sege die leisels by Erasmus geneem het, maar nog nie sy span vir 'n toets kon voorberei nie, sê dit is noodsaaklik dat hulle “voorbereidingstoetse” speel voordat die Leeus in Suid-Afrika aankom.

“Dit sal ideaal wees om 'n paar opwarmwedstryde te kon hê,” sê Nienaber.

Die opsies is yl omdat die meeste spanne al klaar tot toetse verbind is. Argentinië en die Britse Barbarians is as opsies genoem. Nienaber is egter katvoet vir die voorstelle en soek opponente wat werklike teenstand vir die Bokke sal bied.

“Watter wedstryde ons ook al reël, móét ons voorberei vir die Leeus se toer,” sê Nienaber. “As jy dink Warren Gatland (die Leeus se breier) gaan sy span afrig om Barbarians-rugby te speel, kan ons teen die Barbarians speel. Maar as jy dink hy gaan verkies om voor te oorheers, met goeie vaste fasette en skoppe, moet jy sorg dat jy teen 'n span oefen wat daardie eien­skappe het.

“Dit is 'n area waarin Rassie ongelooflik goed is. Ons voorbereiding sal soortgelyk wees as wat ons van die Leeus sal verwag.”

Ondanks die ontwrigte sportkalender sê Nienaber hy beskou nie 2020 as 'n vermorste jaar nie. “Dit was vreemd om vir 'n hele jaar nie te kon afrig nie, maar ons het dan weer baie tyd gehad om ontledings te doen en te beplan.

“Ek sien 2020 nie as verlore tyd nie.”

Nienaber sê die duidelike skeiding van rolle tussen hom en Erasmus werk goed. Dit maak Erasmus se hande los om op die reël van die toetswedstryde te fokus.

“Rassie en Charles was ongelooflik kreatief en het aan ander idees gedink om te verseker dat ons reg voorberei vir die toer. Dit is die lekker ding vir my: omdat my en Rassie se rolle ten volle geskei is, kan ek heeltemal fokus op die Springbokke, die bestuur en die spelers se vertonings.”– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!