Pandemie het mededingende voordeel herdefinieer
Pandemie het mededingende voordeel herdefinieer

Pandemie het mededingende voordeel herdefinieer

Ondernemings moet vlugvoetig aanpas
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Daar word dikwels van ‘n kwantumsprong gepraat om die omvang van ‘n verandering te verduidelik. Covid-19 is ‘n eksterne skok op die samelewing en die ekonomie, waarvan die omvang nog verreken word.

Wat egter ‘n feit is, is dat dit ons denkwyse permanent sal verander. Dié verandering is meer as ‘n paradigmaskuif – dit is in wese ‘n sprong.

Sedert die bekendstelling van Michael Porter se filosofie ten opsigte van mededingende voordeel in 1985, was die fokus op hoe deelnemers binne die waardeketting volhoubaar kan bly deur elke faset van die waardeketting te optimaliseer ten einde mededingers uit te stof.

Rita Gunther McGrath het dié paradigma se toepaslikheid in haar 2012-boek, “The end of Competitive Advantage”, bevraagteken, maar teen ’n heel ander agtergrond. In daardie stadium was die wêreld besig om te herstel ná die 2008-’09 finansiële krisis. Verskeie kundiges het debat gevoer oor hierdie moontlike skuif en wat opgeval het, is die siening dat volhoubare mededingendheid in die meeste gevalle meer pragmaties as belynd behoort te wees. Op Engels word daarna as “transient” verwys, of direk vertaal: “blywend in oorgang”. Covid-19 het mededingendheid blywend herdefinieer.

McGraft meen om mededingend te bly, moet wegbeweeg word van hulpbron-mededingendheid na groter samewerking binne netwerke, maar wat voortdurend kan aanpas.

Kundigheid binne nywerhede of bedrywe alleen kan ‘n strategiese blindekol veroorsaak omdat dit bly fokus op bedryfverwante veranderlikes wat mededingendheid kan beïnvloed. Volhoubare mededingendheid hang enersyds (maar in ‘n minder mate af) van wat binne ‘n waardeketting gebeur en moontlik is. Die klem val eerder op die verrekening van veranderlikes wat groepeer soos ’n spinnerak.

Volhoubare mededinging word slegs moontlik as die uitdagings as ’n arena pkeks van ‘n belynde bedryf gesien word. Om binne die arena mee te ding, verskuif die klem vanaf ‘n mededingende voordeelparadigma na groter pragmatisme – kontinue veranderings moet verreken word. Dit word ‘n kwessie van implementering, monitering, impakontleding, aanpassing en weer terug na die mark met nuwe toepassings.

Dié dinamiese benadering is die direkte gevolg van die onvoorspelbaarheid van beide verbruikers en mededingers, aldus McGrath. Nywerhede neem ‘n meer amorfe struktuur aan, toetrede word makliker, mededingers se grootte en moontlike invloed word meer divers en marke word grensloos as gevolg van globalisering.

Reaksie op die pandemie is begin met ‘n stuit verspreidingsbenadering en is nou in ‘n stop-ry paradigma. Dit het bykans vernietigende gevolge vir die ekonomie en die samelewing in die geheel, en daar is en word deurlopend beplan en gewerk aan oplossings.

Die pandemie het en sal die gang van besighede, ook op plaasvlak, verander, maar dit moet nie toelaat dat bewese waarhede misgekyk word nie. Sukses word nie bepaal deur die hulpbronne onder beheer nie, maar waartoe toegang verkry is of kan word.

Platforms wat naatlose verbindings tussen tegnologie en ekostelsels optimeer, kombineer talente en inligting. Sukses volg nie noodwendig meer deur ’n onderneming se posisie binne die hiërargie van die nywerheidsleierskap nie, maar hoe naby aan die kern van die nuwe netwerk ‘n onderneming hom bevind.

In hierdie opsig speel tegnologiet, oegang en toepassing, ’n al belangriker rol. Toegang tot inligting met behulp van die internet is een van die beste voorbeelde van die netwerkbenadering en die nuwe mededingende voordeel is ’n afgeleide van hoe blywende oorgang strategies toepassing vind.

Die 2021-kongresse van landbou-organisasies gaan anders plaasvind en sal teen hierdie agtergrond afspeel. As sodanig kan die deelnemers nie resepte vir sukses verwag nie, maar eerder bemagtigende netwerkgeleenthede. Deelname behoort ‘n interaktiewe karakter aan te neem ten einde leierskap te herkalibreer tussen optimisme en kritiese skeptisisme.

Internywerheidsamewerking via die diverse van grootte is belangrik – eenmansake kan ook bydraes lewer tot die volhoubaarheid van sê ’n agri-besigheid met veral klem op verbeterde internywerheidskommunikasie - dit wil sê die onderneming self en sy filiale.

Vlugvoetigheid om te kan aanpas is eerder van toepassing as strategiese stramheid.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer