Pandemie kaap nie plan vir herlewingsboerdery

Die plan om nuwe lewe in veeboerdery te blaas, is op koers.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die plan om boere te betrek by die nasionale herlewingstrategie vir vleisproduksie en hulle aan te moedig om weidingstoestande te verbeter, moes weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls aangepas word.

Pleks van samekomste te reël, is YouTube-video’s gemaak om die voorgestelde benadering aan die boere te verduidelik, sê Colin Nott, weidingskundige wat as konsultant vir die implementering van die herlewingsboerderyplan aangestel is.

Die plan om herlewingsboerdery te vestig volg nadat die land se landbou-unies – die Namibië Landbou-unie (NLU), Die Namibië Opkomende Kommersiële Boere-unie (NECFU) en die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) –gesamentlike verantwoordelikheid aanvaar het om die Nasionale Weidingbestuur- en Beleidstrategie (NRMPS) se momentum te behou wanneer die finansiering deur die Europese Unie (EU) ná vyf jaar ten einde geloop het.

Daarom het lewendehaweprodusente en verteenwoordigers van hierdie landbou-unie verlede jaar saam met die ministerie van landbou, water en grondhervorming ’n nasionale strategie ontwikkel om nuwe lewe in die Namibiese lewendehawebedryf te blaas.

Die voorgestelde herlewingsplan vir veeboerdery sal vleisproduksie oor die medium termyn vir boere meer winsgewend maak, hulpbronne verbeter en meer werk skep.

Met Nott se hulp is ‘n konsepplan geformuleer waarvan die fokus is om landwye herstel van die balans tussen bos en gras op plase te bewerkstellig.

Hy is ook gekontrakteer om voorleggings aan belangstellende streeklandbou-unies te doen oor hoe weiding ná goeie reën bestuur moet word, en die inwerkingstelling van herlewingslandbou in ekstensiewe veeproduksie te verduidelik.

Volgens die NLU is groepe bestaande uit belangstellende boere in reeds gevorm om aan die strategie te werk. Boereverenigings is ook uitgenooi om deel te word van hierdie beweging en hulle lede blootstelling te gee aan die nuwe benadering.

Nott het in ‘n Zoom-onderhoud met Die Boer gesê omdat die inperkingsmaatreëls dit moeilik maak om groot samekomste te reël waar die beginsels van die herlewingsplan bespreek kan word, is YouTube-video’s gemaak om as leermiddel in te span.

Die gedagte is dat wanneer die boere die video’s kyk en daarna bymekaar kom en besluit op ’n weidingsplan en hoe hulle ondersteun kan word.

Die NLU het vroeër in ‘n nuusbrief verduidelik daar is ook planne om ’n bedryfskomitee te stig wat toekomstige aktiwiteite sal finansier en bedryfskenners in die lewendehawe-waardeketting byeen sal bring om noodsaaklike prioriteite te identifiseer.

Tydens die NLU se landbouvooruitskouingskonferensie verlede jaar in Windhoek, het Nott gesê 60 miljoen ha veegrond het die afgelope 50 tot 100 jaar erg agteruit gegaan. Dit kos die land N$3 miljard per jaar weens ’n verlies aan potensiële inkomste. Baie meer grond is nou nodig om dieselfde getal diere te onderhou. Dus is die lewendehaweprodusente en die hele vleisbedryf in die moeilikheid.

Twee sleutelstrategieë is onder die boer se beheer, het hy verduidelik: Verlaag die produksiekoste per dier deur vir wins te beplan en koste te verminder, en verhoog die produktiwiteit per hektaar. Dié twee veranderings sal suksesvolle boere van die res skei en is nou ’n vereiste om aan te hou boer. “Die res wat dit nie doen nie, sal mettertyd verdwyn,” het hy gesê.

Plaasbestuur moet op vier hoofgebiede klem lê om veeboerdery suksesvol te maak:

· volhoubare veebelading;

· vrugbaarheid;

· diereprestasie; en

· karkasgewig.

Daarvan hou volhoubare belading die sleutel tot sukses. Boere moet die getal plante bo-op en in die grond vermeerder om die grond se mikrobe-bioom te laat toeneem, wat op sy beurt die grond se funksie verbeter.

As dit gebeur, sal die grondbedekking toeneem, wat die plante se opbrengs en diere se produksie sal verbeter. Die weiding kan egter net verbeter indien dit korrek bewei en gerus word.

“Die land se weidingspotensiaal het gedaal omdat die organiese koolstof in die grond met die tyd verminder het. Dit beteken die vog bly nie behoue in die grond nie, baie van die water loop af en die son bak die grond baie hard,” sê Nott.

“As weidingsmetode verander, kan koolstof weer teruggesit word in die grond en die proses van herstel kan begin.”

Met gesonde beweiding neem die veld se produktiwiteit toe, waarna die veld moet rus. Té swaar beweiding en té veel rus is albei nadelig. Die grasse moet dus nie net in die groeityd bewei word nie, maar ook buite die groeityd.

Die dalende produktiwiteit wat tans ondervind word, kan omgekeer word indien die meeste boere hul weiveldbestuur vrywilliglik verander, maar dit moet ’n gekoördineerde poging wees waarin die regering, banke, markte en borge saamwerk, sê hy.

Hy sê boere moet meer van herlewingslandbou leer en die beginsels toepas.

Daarmee sal moet markte erkenning aan dié metodes gee en hoër pryse vir produkte betaal. En derdens moet banke saamwerk wanneer boere hulle met ’n goeie sakeplan nader wat op herlewingslandbou gemik is en lenings teen ’n laer rentekoers aanbied.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!