Pandemie kniehalter kunstebedryf

Die kreatiewe- en kulturele bedryf het wêreldwyd reeds U$7 miljard verloor weens die coronavirus.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis - Die daaglikse inligtingsessie verlede Vrydag het die impak van Covid-19 en die inperking op die plaaslike kunste-, kultuur- en musiekbedryf bespreek.

Mnr. John Max, uitvoerende hoof van die Namibiese Vereniging van Komponiste en Musikale Outeurs (Nascam), me. M’kariko Amagulu, adjunkdirekteur van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, me. Marinda Stein, ‘n raadslid van die Namibiese Filmkommissie (NFC) en mnr. Patrick Sam, voorsitter van die Nasionale Kunsteraad het die gesprek gelei.

‘n Beroep is op die ministerie van finansies gedoen om die vermaaklikheidsbedryf as een van die bedrywe, wat die hardste deur die virus getref word, te oorweeg.

Amagulu het gesê die plaaslike uitbreking van die virus het reeds tot ‘n groot verlies van inkomste vir plaaslike besighede gelei wat deel is van die kunstebedryf. Sy het klem daarop gelê dat kuns deel is van almal se kultuur, en mense dikwels op kuns staatmaak om hulle deur moeilike tye te dra. Sy het Namibiërs gevra om plaaslike kunstenaars ten alle koste te beskerm, want dit is húlle wat die nasie in isolasie verenig.

Volgens Amagulu is die ministerie besig om ‘n taakspan byeen te roep om plaaslike kuns en kunstenaars aanlyn te bemark en onderhandelinge is onderweg om ‘n spesiale Covid-19-stimuluspakket vir kunstenaars saam te stel.

PLAASLIKE MUSIEKBEDRYF

Max het gesê musikante en sangers is dié wat die impak van die pandemie die hardste voel, aangesien al hulle optredes gekanselleer of uitgestel moes word. Ongeveer 500 plaaslike kunstenaars is lede van Nascam en ongeveer 4 miljoen kunstenaars wêreldwyd is by die vereniging geregistreer.

Hy het ‘n beroep op Namibiërs gedoen om plaaslike musiek te ondersteun. Radiostasies moet meer speeltyd aan plaaslike inhoud toestaan. Minstens 70% van die inhoud wat regeringstasies soos die NBC speel, moet plaaslik wees en van private radiostasies minstens 50%. Max sê dié reël geld al vir ’n geruime tyd, maar moet veral nou gehoorsaam word, aangesien dit in baie se beste belang is.

Die Covid-19-impak op Nascam beïnvloed ook platejoggies, bemarkers, ontwerpers en nog baie ander wat deel is van die vermaakbedryf, volgens Max.

Hy sê kunstenaars moet hulp ná afloop van die pandemie ontvang, en ‘n hulpfonds moet vir die bedryf opsygesit word.

Hy het die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) geloof na dié onderneem het om bystand aan die vermaakbedryf te bied.

PLAASLIKE FILMBEDRYF

Die NFC sê die virus het reeds ‘n negatiewe impak op 94% van kunstenaars in die kreatiewe bedryf gehad. Volgens Stein het die verspreiding van die virus ‘n domino-effek, aangesien die filmbedryf ‘n skakel tussen verskeie nywerhede soos toerisme, vervoer en die toerisme- en gasvryheidsbedryf is.

“Die slag van die pandemie het na ander nywerhede oorgespoel,” het sy gesê.

Sedert die aankondiging van die noodtoestand kon die filmkommissie nie fondse aan plaaslike inhoudskeppers beskikbaar stel nie, het Stein gesê.

Volgens haar is dit rede tot kommer, aangesien die filmbedryf ‘n aansienlike bydrae tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) lewer.

“Dit was ‘n manier om Namibië aan die buiteland te bemark” wat op die oomblik nie ‘n moontlikheid is nie.”

Sy het ‘n beroep op diegene wat deel is van dié bedryf gedoen om formeel by nasionale instellings te registreer as hulle hoop om hulp van die regering te ontvang. Sy het ook gesê slegs geregistreerde belastingbetalers sal voordeel trek uit die stimuluspakkette wat hulle beskikbaar wil stel.

GEBREK AAN STATISTIEK

“Kuns en kultuur bring mense gewoonlik bymekaar, wat die pandemie op die oomblik nie toelaat nie,” het Sam gesê.

Volgens hom is die virus se impak wydverspreid oor die bedryf, maar voldoende statistieke is nie beskikbaar nie, omdat kunste nie tans ‘n nasionale prioriteit is nie.

“Die impak kan egter gevoel en gesien word soos die teaters se deure toemaak,” het Sam gesê.

Geen spesifieke statistiek oor die verlies van inkomste is tans beskikbaar nie, aangesien dié bedryf nie deel van die formele sektor is nie.

Sam het egter gesê ‘n verlies van N$600 miljoen is weens die kansellering van vertonings en ander geleenthede gemaak.

Hy het bevestig die raad is tans in onderhandelinge met die owerhede gewikkel om ‘n stimuluspakket vir kunstenaars beskikbaar te stel.

Die kunsteraad is ook besig om die gebruik van aanlyn verspreiding van kunste te ondersoek.

Sam sê egter dit is op die oomblik nog een van die uitdagings waaroor hulle koppe bymekaar moet sit.

Hy het verder gesê die kunstebedryf moet ingespan word om bewustheid onder Namibiërs te skep.

Sam het gesê hulle kan nie doeltreffend ingryp as daar ‘n gebrek aan inligting is nie.

“Die voortbestaan van die kunste hang van kennis, beskikbaarheid van dienste en data oor diegene wat deel is van dié bedryf af. Ons moedig almal aan om deel te word van nasionale instellings.”

“Slegs as ons saamwerk om met unieke oplossings vorendag te kom, kan ons hierdie oorleef. Mense moet die waarde van die bedryf besef en slegs dan sal die vooruitgang van die kunstebedryf ‘n realiteit kan word,” het Sam ter afsluiting gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!