Pandemie kwes jagbedryf
Vooruitsigte dat internasionale toeriste Namibië binnekort in groot getalle sal besoek, word belemmer deur onder meer die beskikbaarheid van vlugte.
Elvira Hattingh – Die sluiting van grense vir internasionale jagters weens die Covid-19-pandemie het ‘n enorme impak op die jagbedryf, met talle wat nou na veeboerderye oorskakel of dringend ander bronne van inkomste probeer vind.
Danene van der Westhuyzen, president van die Namibië Professionele Jagtersvereniging (Napha), sê die plaaslike jagbedryf is erg geraak.
“Die uitwerking is massief. Ons het gegaan van ‘n vol bespreekte jaar na geen kliënte nie. Ons het tans geen inkomste nie en dit is baie moeilik, veral waar daar nie ‘n sekondêre stroom van inkomste is soos by gemengde boerderye of mense wat ook houtskool produseer nie,” het sy gesê.
Sy het met op Die Boer in sy weeklikse aanlyn landbouprogram gesels wat Dinsdae om 17:00 op beide Republikein en Die Boer se Facebookblaaie uitgesaai word.
OORLEWINGSPLANNE
Sy meen talle jagondernemings het alleenlik op jag gefokus en in hul kapitaal belê om oop en skoon habitatte vir wild te skep.
“Ons is baie afhanklik van internasionale markte en jagters. Talle bied ook die sogenaamde biltongjagte aan Namibiërs en die Suid-Afrikaanse mark, maar inkomste hieruit is meestal net ‘n druppel in die emmer,” het sy verduideik.
Sy sê die situasie benadeel ook Namibië se wildlewe. “Baie mense in die jagbedryf het besluit om heeltemal na skaap- en beesboerdery oor te skakel. Jy sien ‘n ommekeer van wat in die 1970’s gebeur het, naamlik toe daar bykans geen wild op private grond was nie en kommersiële veeboerderye oorheers het.
“Boere word gedwing om van hul wild ontslae te raak en hulle plase weer met beeste en skape te bestok sodat hulle kan oorleef. Dit is een opsie waarna die jagoperateurs moes kyk.
“Ons by Aru Hunting Safaris het dit nog nie gedoen nie, maar as dinge nie verander nie sal ons nie ‘n keuse hê nie.”
Van der Westhuyzen meen juis om hierdie rede is dit onstellend om te sien dat geldskenkings uit die buiteland meestal vir kommunale bewaringsgebiede gegaan het. “Dis juis op private grond waar wildgetalle totaal herstel het. Tot 90% van ons wildlewe kom buite nasionale parke voor,” sê sy.
Sy sê nog iets wat gedoen is om die bedryf te help oorleef, is die vindingryke wyse waarop mense in die jag- en toerismebedryf probeer het om plaaslike toerisme met spesiale aanbiedinge te lok. “Dit is fantasties om te sien hoe Namibiërs probeer om ons veral naweke te ondersteun. Dit is egter ‘n geringe inkomste teen wat ons normaalweg ontvang het,” sê sy.
Sy het egter die publiek bedank vir hul ondersteuning van plaaslike toerisme en gesê dit is bemoedigend om te sien dat hulle Namibiërs mekaar help en ondersteun.
Sy sê sommige mense in die jagbedryf het intussen met houtskoolproduksie begin, wat help met beide ontbossing en werkverskaffing. “By Aru het ons ‘n goeie slaghuis en verwerk en verskaf goeie gehalte wildsvleis aan plaaslike markte,” sê sy.
Sy sê dit gaan nietemin moeilik, want hulle het meer as 60 werknemers wat steeds betaal moet word en dat hulle lenings daarvoor moes aangaan.
VOORUITSIGTE
Van der Westhuyzen sê hulle is bly die grens vir toerisme heropen, maar talle kwessies staan in die weg van groot getalle kliënte in die nabye toekoms.
“Dit sluit in dat baie lugrederye nie en nog nie vlieg nie. Hulle is onseker oor heen-en-weer besluite wat deur die regering gemaak word.
“Kliënte is ook nog bang. Hulle is gewillig om te reis, maar sê hulle is nie bereid om onder haglike omstandighede in Namibië in kwarantyn of in isolasie geplaas te word nie.
“Ons moet die sekerheid hê dat kliënte opgetel sal kan word en vir sewe dae dan by ons in die bos in kwarantyn sal kan bly.”
Sy meen egter baie van die reëlings en planne soos dit tans staan, is uitvoerbaar.
Van der Westhuyzen sê verder dit gaan die bedryf baie lank neem om ten volle te herstel. "Die meeste van ons kliënte wat ons vanjaar sou besoek, het hul besprekings na volgende jaar geskuif. Die deposito’s is reeds betaal en ook gebruik.
"Dit beteken volgende jaar is reeds vol bespreek, maar ons inkomste gaan minder wees. Ons sal slegs geld verdien uit die jagtogte self. Dit sal twee tot drie jaar neem voor die bedryf weer op die been is," meen sy.
INTERNASIONAAL
Van der Westhuyzen sê internasionale druk dat wildhandel gestaak moet word, is onregverdig, ongevraag en onrespekvol teenoor Afrika en sy soewereiniteit.
“Dit is sommer bog en hartseer dat internasionale besluite ons bedrywe bedreig. Dit sal die jagbedryf seermaak en boonop is toerisme een van die grootste bydraers tot die Bruto Binnelandse Produk.
“Daar bestaan ‘n groot wanpersepsie oor die onwettige versus wettige handel van wild. Daar is ‘n hemelbreë verskil tussen die twee. Ongelukkig word jag ook dikwels negatief gesien en met stropery verbind.
Dit is hartseer dat internasionale besluite ons soewereiniteit in Afrika bedreig.
"‘n Jagter kom nie net om te skiet nie – 90% van sy ervaring gaan daaroor dat hy deel van die natuur wil voel en weer die natuurlike piramiedskema van die natuur en sy plek daarbinne wil verstaan."
Sy meen al sou so ‘n internasionale besluit beteken trofees kan nie uitgevoer word nie, sal daar steeds mense wees wat hier wil kom jag.
Sy sê jag word selfs plaaslik nog nie altyd verstaan nie. “Dit is skokkend om te sien hoeveel Namibiërs self teen jag en etiese trofeejag gekant is en nie verstaan wat die rol daarvan vir die bewaring en volhoubaarheid van ons wild nie.
“Dié mense het dikwels nie ‘n goeie begrip van die bedryf nie en is ook nie bereid om na ons saak te luister nie. Ons kantore is egter altyd oop vir hierdie gesprekke,” het sy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie