Pandemie leer bedrywe moet risiko's bereken
Pandemie leer bedrywe moet risiko's bereken

Pandemie leer bedrywe moet risiko's bereken

Landbou bied wat almal nodig het: kos
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Boere is, soos enigiemand anders in besigheid, voorlopig besig om 'n hele reeks risiko's te bereken. Sommige doen dit regstreeks, terwyl ander afkyk en tevrede is met 'n afgeleide van besluite deur mense wat aktief met risiko's werk.

Die pandemie het gewys dat hoewel besluitnemers moontlike gebeure kan identifiseer, is die waarskynlikheid daarvan so laag dat dit nie 'n wesentlike invloed het of kan hê op die alledaagse gang van sake nie. Niemand kon egter die pandemie voorsien nie, ten spyte daarvan dat daar al vir baie lank hoëvlak-navorsing gedoen word oor dié spesifieke virus. Vergelykbare gebeure is bekend.

Tegnologie maak dit moontlik om byvoorbeeld rampe te voorspel of aan te dui dat dit 'n goeie of swak reënjaar kan wees. Met sulke inligting verfyn besluitnemers die moont­likheid deur die waarskynlikheid te ontleed en veral om moontlike gevolge te bepaal.

Sulke verfynde besluitneming impakteer vervolgens op besluite soos die tempo waarteen 'n kudde herbou moet word en welke strategie die beste moontlike uitkoms kan hê. Wat egter ook gebeur, is dat te veel besluitnemers, insluitend boere, nie strategies fiks genoeg is om vroegtydig en volledig hulle kennisbasis só te verbreed dat doeltreffende taksering van die onderhewige risiko's moontlik is nie.

Wanneer sake dan skeefloop, word baie van hulle wat daardeur geraak is, deel van drukgroepe wat die vinger wys na ander.

Andersyds kan sake skeef loop te midde van die beste vooraf beplanning, soos die ineenstorting van markte tydens die 2008-'09 finansiële krisis en nou die pandemie.

Die herstel ná die finansiële krisis was egter te midde van onderstrominge (ander sien dit as onafwendbare vooruitgang) soos die vierde nywerheidsrevolusie en tegnologiese ontwikkeling wat geskoei is op kunsmatige intelligensie.

Voor Covid-19 was daar kragte wat die gang van sake in terme van tegnologie-ontwikkeling en -toepassing wou dikteer en rig ter wille van hul eie heil.

Sodoende is die werklikheid in te veel gevalle bedek met handelsmerkbeskerming ensovoorts.

Covid-19 se koms het hierdie denke en praktyke behoorlik in die bek geruk. Oornag is praktyke as uitgediend bewys en het besluitneming 'n nuwe spoor gevat – kompleet soos 'n goeie spoorsnyer op die spoor kan bly ten spyte van die terrein.

Niemand kan vandag konvensie pleit nie, maar wat soos 'n paal bo water staan is dat mense – en hulle word daagliks al meer - móét eet. Daar is nog nie 'n pil teen honger wat 'n paar dae sal hou nie. Dit is rigtinggewend vir die landbou, maar posisionering bly een van die wagwoorde.

Die nuwe bedeling waarbinne kollektiewe besluitneming sal plaasvind, herinner mens aan die sogenaamde “pot luck dinners”. Elke gas bring 'n dis wat iets van die gas uitstraal. Vir sommige gaste is 'n gebak uit die supermark voldoende, maar almal weet watter waardering daar is vir oorspronklikheid.

Wanneer daar om die tafels gesit word om planne te beraam vir die pad vorentoe en dít te midde van ongekende verandering, bied landbou wat geen ander sektor bied nie, naamlik veilige en bekostigbare kos. Dié bydrae moet egter nooit as hefboom gebruik word nie, maar as oortuigende onderhandelingsmedium.

Saam met landbou se bydrae kom daar die gesindheid van interafhank­likheid, want dit is wat op 'n plaas gebeur.

Bemagtigende besluitneming stel die deelnemers in staat om meer doeltreffend moontlikhede te identifiseer en kollektief te besin oor die waarskynlikhede. Belangriker nog is om seker te maak daar is 'n brandwag wat deurlopend en wakker verken. Die brandwag moet vertrou word, uitgedaag word en na geluister word.

Terugvoering uit die geledere van georganiseerde landbou dui op begrip vir wat moet gebeur.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer