Pandemie lui eerste aandklokreël in

Teen gister was die eerste minister, die adjunkpremier en vyf adjunkministers in kwarantyn en/of selfisolasie.
Denver Kisting
Denver Kisting en Henriette Lamprecht – Van die N$727 miljoen wat die regering vir die jaar vir die stryd teen Covid-19 begroot het, is meer as N$400 miljoen – 59% – reeds bestee.

So sê dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste.

Dit kom te midde van ’n aankondiging gistermiddag deur pres. Hage Geingob dat die hele land sedert middernag terug in fase 3 van die noodtoestand is. “Hierdie was nie maklike besluite om te neem nie, maar hulle is belangrik. Hierdie ding diskrimineer nie.”

Teen gister het Namibië 3 406 bevestigde gevalle van Covid-19 aangeteken, terwyl die siekte reeds 22 lewens geëis het, het Geingob gesê.

Boonop was die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, die adjunkpremier, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, en vyf adjunkministers ook gister almal in kwarantyn of selfisolasie.

Geingob sê die jongste maatreëls het ten doel om die verdere verspreiding van die virus te onderdruk en lewens te spaar.

Shangula het voorts aangekondig ’n aandklokreël sal geld vir Windhoek (waarby Okahandja en Rehoboth ingesluit is), Walvisbaai, Swakopmund en Arandis.

Die regskenner prof. Nico Horn sê dit is die eerste keer dat ’n aandklokreël in onafhanklike Namibië ingestel word. “Dit is redelik ingrypend.”

Volgens dié reël mag niemand saans tussen 20:00 en 05:00 op straat wees nie, behalwe as hulle in besit is van ’n permit vir die lewering van kritieke of noodsaaklike dienste of goedere.

Vir die duur van die jongste regime mag niemand ook die beperkte areas binnegaan of verlaat nie behalwe vir ’n begrafnis van ’n nabye familielid of vir kritieke of noodsaaklike redes.

Drankverkope mag tydens fase 3 net tussen 12:00 en 18:00 Maandae tot Vrydae geskied en tussen 09:00 en 13:00 op Saterdae. Sondae is dit verbode.

Die perk op alle openbare saamtrekke is tien mense.

Die maatreëls is vir 16 dae tot 28 Augustus van krag.

Shangula sê die ministerie het nie ’n tekort aan persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) in staatsgeriewe nie.

Volgens Shangula het ’n werknemer wat in die ministerie se hoofkantoor werksaam is positief getoets nadat die persoon ’n troue bygewoon het. As ’n voorsorgmaatreël is die gebou ontruim en word dit ontsmet. Personeel, wat Shangula insluit, sal almal vir Covid-19 getoets word.

Hy het verwys na die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) se kapasiteit wat verhoog is en nou ook laboratoriums op Oshakati, Keetmanshoop en Walvisbaai insluit wat vir die siekte kan toets. Buiten die ondersteuning van Pathcare en Namdeb is NIP ook in konsultasie met nog twee laboratoriums om kapasiteit te verhoog en dit volgens hom om die reuse-agterstand wat tans ondervind word, uit te wis.

Shangula het beklemtoon tans is daar geen kuur vir Covid-19 nie en het inwoners aangemoedig om weg te bly van behandelings wat as ’n kuur voorgehou word. Volgens hom is die enigste behandeling tans ondersteunend om simptome te bestuur. Die beste en enigste vooruitsig volgens hom is wanneer ’n entstof beskikbaar en in die openbare domein is. Hy het beklemtoon die enigste en beste opsie is steeds voorkoming is beter as genesing.

Met verwysing na die beskikbaarheid van kwarantyngeriewe het Shangula gesê dit is moeilik om te bepaal hoeveel geriewe is nodig, omdat dit gelei word deur mense wat positief toets. Volgens Shangula is die Ramatex-perseel in Windhoek wat as moontlike isolasie- en kwarantyngeriewe identifiseer is, nie bewoonbaar nie en is dit volgens hom ook ’n kwessie van eienaarskap.

Hy het beklemtoon die opsie vir inwoners om tuis te kwarantyn en te isoleer word reeds gebruik. Shangula het beklemtoon wanneer ’n persoon slegs wil weet of hy positief vir Covid-19 is, al dan nie en geen simptome toon nie en ook nie in kontak met ’n bevestigde geval was nie, hoef nie in isolasie te gaan nie. Slegs wanneer die persoon wel positief toets, word hy of sy in isolasie geplaas.

Shangula het ook verwys na ’n video wat op sosiale media die ronde doen waarin hy saam met ’n groep mense is en nie ’n masker dra nie.

Volgens Shangula kan hy onthou toe die video gemaak is en was dit in Maart vanjaar toe die eerste Covid-19-gevalle in die land aangemeld was en dit nog nie ’n verpligting was om ’n masker te dra nie.

- [email protected] en [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer