Pandemie saai chaos in landbousektor
Pandemie saai chaos in landbousektor

Pandemie saai chaos in landbousektor

Covid-19-inperkings het ’n enorme las op landbou en voedselproduksie geplaas, net ná ’n verwoestende droogte.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Covid-19-pandemie en -inperkings het nie net chaos in die landbousektor en -waardeketting geskep nie, maar sal na verwagting hongersnood en wanvoeding onder Namibiërs vererger.

Volgens kenners wat gister tydens ’n webinar deur die Friederich Ebert Stiftung gepraat het, kon die tydsberekening hiervan nie slegter gewees het nie.

Me. Emilie Abrahams, die tuinboubestuurder by die Namibiese Akkerbouraad (NAB), sê die pandemie kom kort nadat Namibië ’n katastrofiese droogte sedert 2014 ervaar het.

IMPAK

Die Covid-19-impak en gepaardgaande inperkings het primêre kosproduksie geraak omdat beperkte arbeiders daartoe gelei het dat boere nie altyd bestellings kon nakom of betyds kon oes nie, het Abrahams gesê.

Dit het tot wisselvalligheid gelei, terwyl onderbrekings in produksie-insette soos kunsmis en saad ook veroorsaak het dat produsente onseker was of hulle moes plant.

Boonop het die sluiting van informele markte beteken talle Noorde-boere het nie meer afset vir hul produksie gehad nie. Groot verliese is gely, terwyl logistieke uitdagings soos vereiste reispermitte lewering vertraag het.

Groothandelaars, formele asook informele handelaars se invoerkoste het verhoog weens swakker wisselkoerse, terwyl logistieke uitdagings ook ervaar is. Die sluiting van onder meer skole, koshuise en die toerismebedryf het ook die vraag na voedsel kwaai verlaag en handelaars het minder produkte verkoop en hul inkomste het verlaag.

“Boonop moes informele markte sluit en kon slegs ‘n beperkte aantal mense veeveilings bywoon, wat dit vir landbouprosesseerders moeilik gemaak het om genoeg voorraad te kry.

Landbouprosesseerders, wat insluit meulenaars en slagters, het logistieke en arbeidsuitdagings ervaar.

Gevolge van die pandemie en inperkings het gelei tot die sluiting van sakeondernemings en werkverliese, terwyl die gasvryheidsbedryf kwaai geraak is. “Dit lei tot die inkrimping van die bruto binnelandse produk (BBP), wat reeds deur die droogte belemmer is,” het Abrahams gesê.

Sy sê die NAB het koshandel deurlopend fasiliteer deur die grense oop te maak om voedseltekorte in die plaaslike mark aan te vul, terwyl plaaslike produksie beskerm is deur grense te sluit wanneer daar genoeg plaaslike produkte beskikbaar is.

FASES

Abrahams sê daar is waargeneem dat verbruikers tydens die pandemie deur verskeie fases gegaan het. Aanvanklik is paniekaankope ervaar toe ’n afname in koopkrag en plaaslike vraag na voedsel en toe prysinflasie. Daarna is ’n tekort aan die verskaffing van plaaslike voedsel ervaar en die sluiting van besighede en werkverliese.

Sy sê die pluimveebedryf is oorval deur nuwe toetreders wat hul werk verloor het.

Abrahams meen moontlike oplossings sluit in die groter gebruik van voedselstoorfasiliteite, die aanbring van landbouprosesseringsfasiliteite en nasionale prysmoniteringskemas. Sy meen ook produsente se produksiekapasiteit moet uitgebrei word, asook hul toegang tot finansiering.

DUURDER KOS

Namibmills se internasionale handelspesialis, mnr. Arwil Viviers, het die situasie vergelyk met die migrasie van wildebeeste in Tanzanië en Kenia, wat behels hulle moet die gevaarlike Mararivier vol krokodille oorsteek. Doen hulle nie, vrek die hele trop van die honger. Steek hulle dit wel oor, sal die krokodille hul tol eis.

“Dit is waar ons is – vasgevang in ’n lokval tussen voedsel- en ekonomiese sekuriteit versus gesondheid en biosekuriteit. Ons sal ’n fyn balans moet vind,” het Viviers gesê.

Viviers meen die Covid-19-pandemie en -inperkingsmaatreëls het die swakhede van voedselproduksie en -verskaffingstelsels uitgewys en dat dit wêreldwyd tot voedselonsekerhede sal lei.

“Ná vanjaar se rekord mielie-oes van sowat 63 000 ton witmielies het ons genoeg kos, maar nie langer genoeg geld nie. Die beskikbaarheid van kos, beteken nie dis bekostigbaar en toeganklik nie,” het hy gesê. Hy meen ook verhoogde werkloosheid gaan voorts ’n enorme las op toelae en voedselbanke plaas.

“Boonop sal vervoerkoste na verwagting verhoog weens logistieke uitdagings soos grenssluitings, strenger vereistes wat langer vervoertye meebring en ook duurder openbare vervoer.

“Namibië is baie afhanklik van invoere en dus sal hierdie ons raak. Selfs in plaaslike voedselproduksie maak ons staat op die invoer van sade, kunsmis en toerusting,” het Viviers gesê.

Hy meen mense se verminderde inkomste sal beteken die vraag na kos verminder en minder kan produseer word. “Mense sal voorts eerder by die huis eet en al meer staatmaak op e-handel.

“Boonop is hoë waarde kommoditeite soos vrugte, groente, vleis, vis en melk wat tot dusver geredelik beskikbaar was, die kwesbaarste vir logistieke probleme. Dit dryf die produkte se koste op en verminder die beskikbaarheid daarvan.”

Viviers meen dit sal die vraag na bederfbare produkte voorts verminder, wat ’n ernstige impak op die inkomste van kleinskaalprodusente sal hê. Boonop beteken die pandemie groter klem sal voorts op meganisasie en minder werkers gelê word, wat ook ’n impak sal hê.

Viviers het afgesluit deur te sê hierdie probleme word tans wêreldwyd ervaar en ’n globale resessie is op hande. “Wêreldwyd sal ekonomieë se uitsette na verwagting oor die volgende twee jaar met minstens USD8,5 triljoen inkrimp,” het hy gesê.

Viviers sê van die lesse wat geleer is, is dat die wêreld te veel staatmaak op Amerika en China, wat die ergste deur die pandemie geraak is. “Ons moet wegbeweeg van die afhanklikheid van invoere en globalisering na plaaslike produksie en om selfvoorsienend in voedselproduksie te wees, het hy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!