Pandemie sorg vir tonne mediese afval

Gesondheid
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Tienduisende tonne ekstra mediese afval weens die wêreld se reaksie tot die Covid-19-pandemie plaas oraloor ’n geweldige las op die bestuurstelsels van gesondheidsorgafval.

Dit bedreig mens en dier se gesondheid en het ’n dringende behoefte blootgelê om bestuurspraktyke te verbeter.

Volgens ’n nuwe verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) wat gefokus het op ’n globale ontleding van mediese afvalpraktyke, het die kollig geval op sowat 87 000 ton persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) wat tussen Maart 2020 tot November 2021 aangekoop en verskeep is as deel van ’n gesamentlike noodinisiatief deur die Verenigde Nasies (VN).

Die meeste van dié toerusting word op die ou end mediese afval.

Enige ander Covid-verwante produkte wat buiten bogenoemde inisiatief gekoop en gebruik is, sowel as afval wat deur die publiek gegenereer is, vorm boonop nie deel van die verslag nie. Deel van die inisiatief was meer as 140 miljoen toetsstelle, met ’n potensiaal van 2 600 ton nie-aansteeklike afval (hoofsaaklik plastiek) en 731 000 liter chemiese afval (gelykstaande aan ’n derde van ’n Olimpiese grootte swembad) verskeep.

Die meer as agt miljard dosisse entstof wat wêreldwyd toegedien is, het 144 000 ton bykomende afval in die vorm van spuitnaalde, naalde en veiligheidsboksies teweeg gebring.

Volgens die verslag het die VN gefokus op die onmiddellike taak om kwaliteitvoorrade PPE’s te bekom en is minder aandag en hulpbronne gewy aan die veilige en volhoubare bestuur van Covid-19-verwante mediese afval.

Die WHO se uitvoerende direkteur vir die organisasie se programme noodgevalle, dr. Michael Ryan, het erken dis absoluut noodsaaklik om die regte PPE aan gesondheidswerkers te voorsien. Dis volgens hom egter net so noodsaaklik dat dit veilig gebruik kan word sonder dat dit die omliggende omgewing beïnvloed.

Dit beteken doeltreffende bestuurstelsels is in plek wat insluit riglyne vir gesondheidswerkers oor wat om met PPE’s en ander gesondheidsprodukte te maak nadat dit gebruik is.

In lande wat die minste ontwikkel is, is tot 60% van gesondheidsorggeriewe nie gerat om bestaande vragte afval te hanteer nie, wat nog te sê die bykomende las wat Covid-19 veroorsaak. In ander lande is dit 30%.

Die verslag maan dit stel gesondheidswerkers potensieel bloot aan naaldprikke en patogeniese mikro-organismes, terwyl dit voorts gemeenskappe raak wat naby afvalstortingsterreine woon wat geraak word deur besoedelde lug van afval wat verbrand word, swakkwaliteit water of diere wat siektes dra.

“Covid-19 het die wêreld gedwing om die gapings en verwaarloosde aspekte van die afvalstroom en hoe ons ons gesondheidshulpbronne produseer, gebruik en weggooi, in oënskou te neem,” sê dr. Maria Neira, die WHO se direkteur vir omgewing, klimaatsverandering en gesondheid.

“Beduidende veranderinge op alle vlakke, van die globale tot die hospitaalvloer, in hoe ons hierdie stroom bestuur, is ’n basiese vereiste van klimaatslim gesondheidstelsels. Verskeie lande het hulle tot laasgenoemde tydens die VN se konferensie vir klimaatsverandering verbind. Natuurlik ook is ’n gesonde herstel van Covid-19 en voorbereiding vir ander gesondheidsnoodgevalle in die toekoms,” het Neira gesê.

Die verslag het verskeie voorstelle vir lande om die afvalstroom te beheer en bestuur. Dit sluit in omgewingsvriendelike verpakking en verskeping en herwinbare PPE’s (ingesluit handskoene en mediese maskers), herwinbare of bio-afbreekbare materiale, sowel as die belegging in tegnologieë soos outoklawe.

“’n Sistematiese verandering in hoe gesondheidsorg sy afval bestuur, sluit ’n kritiese oog en beter verkrygingspraktyke in,” sê dr. Anne Woolridge, voorsitter van die Health Care Waste Working Group, International Solid Waste Association (ISWA).

Sy het beklemtoon die veilige en rasionele gebruik van PPE’s sal nie net omgewingskade van afval verminder nie, maar ook geld spaar, die potensiële tekort aan voorraad verminder en ook die voorkoming van infeksie ondersteun.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!