Pandemiejaar se toppresteerders in land
Die graad 12-uitblinkers het elk ’n beproefde suksesresep gevolg.
My Zone-redaksie – Die nasionale toppresteerders in die 2020 graad 12 NSSCH (hoërvlak)-eksamens is gister in Windhoek bekend gemaak.
Windhoek Hoërskool (WHS), Windhoek Gimnasium, St. Boniface College en St. Paul’s College het almal leerlinge in die toptien van die hoërvlak-eksamens opgelewer.
Sophia Trede van St. Paul’s College is nommer een in die land en glo deurlopende harde werk regdeur die jaar is meer werd as ’n paar weke van voorbereiding voor die eksamen.
Trede hoop om ’n mediese loopbaan te volg en wil eendag ’n niewinsgewende organisasie stig vir gesinne wat nie behoorlike gesondheidsorg vir hul kinders kan bekostig nie.
“Ek glo as ’n mens die vermoë het, moet jy aan die gemeenskap teruggee. My hart gaan uit na kinders wat in armoede leef en ek wil hulle nie net ’n gesonde toekoms gee nie, maar ook goeie onderwys in arm gemeenskappe aanmoedig,” het sy gesê.
St. Boniface College se Michael Awe, tweede in die land, het vir die nasionale eksamens voorberei deur gereeld op sy eie te hersien en met sy onderwysers te praat oor enige konsep wat hy nie verstaan nie. “Ek beplan om elektriese en rekenaaringenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.”
Derde in die land is Mercy Apata van WHS. Sy heg baie waarde aan goeie ondersteuningstelsels en harde werk. “Ek plaas God altyd eerste, omring myself met mense wat my ondersteun en in my glo en ek is bereid om dít wat ek wil hê, op te offer vir dít wat nodig is. Ek hoop om eendag medies te studeer,” het sy gesê.
Positiwiteit het ’n kardinale rol gespeel vir Lorene Brand van Windhoek Gimnasium.
“Ek het altyd probeer positief bly, ondanks die omstandighede. Dit het opofferings en lang ure agter die boeke geverg, maar as jy werk vir iets groter as jyself is dit soveel makliker,” het sy gesê. Brand beplan om aan die Universiteit van Stellenbosch medies te studeer.
Fortune Lutombi van St. Boniface College is vyfde in die land en beplan om megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. Sy en ’n paar vriende het ’n studiegroep gevorm, wat die leerproses vir haar vergemaklik het.
Die voornemende rekenaarwetenskap-student van Windhoek Gimnasium, Christo Swanepoel, glo harde werk troef talent as talent nie hard werk nie.
“My hulp, krag en vermoë kom alles van God. Hy het my met hierdie talente geseën en dit is my verantwoordelikheid om moeite en tyd in te sit om hulle behoorlik te gebruik.”
Tyler Hancox van St. Paul’s College het 2020 soos enige ander jaar benader deur bloot hard te werk en “24/7” te leer.
Hancox gaan veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. “Ek is dankbaar vir my graadhoof, me. Anthea Daniels. Ek dink nie ek sou dit deur die jaar kon maak as dit nie vir haar gereelde boodskappe van aanmoediging was nie,” sê hy.
Eino Mpinge (agtste) is by die Universiteit van Kaapstad aanvaar om ingenieurswese te studeer. “As jy glo, kan jy enige iets bereik. Covid-19 het uitdagings oor my pad gebring, maar met harde werk en ondersteuning is alles moontlik.”
Tabitha von Ludwiger (Windhoek Gimnasium) het probeer om gemotiveerd en vasberade te bly deur doelwitte te stel en haar werklading te verdeel sodat dit nie so oorweldigend lyk nie.
“Ek gaan veeartsenykunde in Pretoria studeer en ek glo jou houding bepaal die hoogtes wat jy bereik. Ek is geseën met familie en vriende wat my altyd aangemoedig het om te volhard.”
In die tiende plek is Joané van Rooyen van WHS, wat met dankbaarheid oorweldig is oor dié mylpaal. “My voorbereiding het begin die oomblik toe ek by die skoolhekke instap. Deur goeie tydsbestuur, vroegtydig te begin leer en ’n bietjie moeite elke dag te doen, het ek dinge vir myself veel makliker gemaak.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie