Panga-moordenaar vas

‘n ONVERPOOSDE soektog deur die polisie en werknemers van ‘n private veiligheidsmaatskappy het daartoe gelei dat ‘n 18-jarige man laat Dinsdagaand in verband met die koelbloedige pangamoord op ‘n Russiese egpaar van Okahandja aangekeer is.

Die beskuldigde het reeds ‘n beskrywing van die wrede moord waartydens me. Svetlana Lobanova gepoog het om die woedehoue van haar moordenaars met haar kaal arms af te weer, gegee en ook sy medepligtige in die moord uitgewys. Goedere wat uit die egpaar se woning gesteel is, is in die besit van die beskuldigde gekry. Die moordwapen is op die toneel agtergelaat. Mnr. Joe Kleynhans van Securtiy 24-7 was vol vertroue dat die tweede pangamoordenaar teen laat gisteraand agter tralies sou wees.

“Ons weet wie hy is en ons weet waar hy hom bevind. Dit is net ‘n kwessie van tyd voor die man ook aangekeer sal word.” Mnr. Andrei Pastouchkov (51) en sy vrou, Svetlana (44), is deur die loop van Saterdag op hul plot, waar hulle met hoenders geboer het, deur twee van hul werknemers aangeval en met ’n panga vermink.

Mnr. Pastouchkov het vermoedelik agtergekom dat een van die werkers hom besteel en ‘n konfrontasie daaroor het tot die koelbloedige moord gelei. Inwoners en lede van die sakegemeenskap op Okahandja was geskok toe hulle van die Russiese egpaar se dood te hore gekom het. Mnr. Pastouchkov en sy vrou was gewild onder die vriendekring wat hulle oor die afgelope vier jaar daar opgebou het en is as geliefde en saggeaarde mense beskryf.

‘n Neef van mnr. Pastouchkov, mnr. Denis Galkin, moes gister die oorblyfsels van sy familie amptelik by die polisielykshuis gaan uitken en het oor die motief vir die gewelddadige moord gespekuleer. Hy het van die voorval met die werknemer gehoor en was oortuig daarvan dat die persoon iets met die moord te doene gehad het.
Die verminkte lyke van mnr. Pastouchkov en me. Lobanova is Dinsdag kort na die middaguur deur vriende vergesel van die polisie ontdek. Kenisse van die egpaar het hulle Vrydagmiddag laas lewendig gesien. Die verdagte het erken dat hy en sy makker eers vir mnr. Pastouchkov buite die woning met die panga teen die agterkop gekap het.

Die een hou was genoeg om hom dood te maak en die moordenaars het sy lyk by die hoenderhokke ingesleep en toe die bloedspoor met sand bedek. Toe het die verdagte wat gister nog op vrye voet was, agter die voertuig by die woning gaan wegkruip terwyl die man wat in hegtenis geneem is die vrou na buite geroep het. Toe sy buite kom en onraad merk, het die wegkruiper haar volgens mnr. Kleynhans met die panga in die nek gekap. ‘n Tweede kapslag het ‘n diep sny aan die regterkant van haar kop en kakebeen gelaat. Sy het probeer om die houe met haar kaal arms af te weer en in die proses is vingers aan haar regterhand afgekap, haar arm tot op die been oopgevlek en haar borskas oopgekloof.

Haar liggaam is by die huis ingesleep waar dit in ‘n pakkamer versteek is. Die diep sny aan haar nek het vriende en polisie wat die lyke gevind het, aanvanklik onder die indruk gebring dat haar keel van oor tot oor afsgesny was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!