Pap battery laat oom Dup gestrand
Pap battery laat oom Dup gestrand

Pap battery laat oom Dup gestrand

Ronelle Rademeyer
“Oom Dup lewe!”
Dit was die blye boodskap wat Saterdag omstreeks 08:30 op sosiale netwerke uitgebasuin is.
Mnr. James (Dup) du Plessis het Dinsdagoggend in Namibië vermis geraak nadat hy deur die Ariamsvlei-grenspos is om ’n motor by die Canyon Roadhouse-lodge naby Hobas en die Visriviercanyon te gaan haal.
Du Plessis, wat aan die onderneming Pro-Towing verbonde is, was van Upington op pad en het omstreeks 05:00 deur die grenspos gegaan.
Hy is nog by ’n vulstasie in Karasburg gewaar, maar het daarna soos mis voor die son verdwyn.
’n Grootskaalse soektog is deur die Namibiese owerheid van stapel gestuur.
Namibian Road Rangers en helikopters is ook ontplooi om na Du Plessis te soek.
Op sosiale netwerke het mense al wat leef en beef in Namibië gekontak en gevra om op die uitkyk te wees.
Sy vrou, me. Corrie du Plessis, het Saterdagoggend die oproep ontvang waarvoor sy so hard gebid het.
Oom Dup, soos hy alombekend is, het sy vrou gebel.
Sy dogter Liza-Marié sê haar ma het só gehuil sy kon nie regtig hoor of ­registreer wat werklik gebeur het nie.
Volgens haar blyk dit Du Plessis moes die canyon via ’n alternatiewe roete binnegaan en daar het die vrag­motor se battery onklaar geraak. Hy het toe begin stap en ’n weldoener het hom opgelaai en kos gegee.
Du Plessis het sy vrou uit Keetmanshoop gebel.
Adj.komm. Rudolf Isaak, woorvoerder van die polisie op Keetsmanshoop, het gister aan Republikein gesê sy familie het hom Saterdag op dié dorp kom haal.
“Hy is veilig nadat hy deur ’n onbekende, barmhartige samaritaan gevind is. Wie hom gehelp het, weet ons nie,” het Isaak gesê.
– Eie berig en Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer