Papa die hond eindelik tuis
Papa die hond eindelik tuis

Papa die hond eindelik tuis

Tanja Bause
Tanja Bause – Ná drie weke van angs is Papa die Amerikaanse veghond eindelik weer met sy baas herenig.

Drie weke gelede het Papa uit sy baas op Walvisbaai se erf ontsnap en die pad gevat.

Volgens me. Lorraine Maritz van die dierebeskermingsvereniging (DBV) op Walvisbaai het sy baas dit onmiddellik by die DBV aangemeld.

“In die eerste week het niemand vir Papa gesien nie. Maar toe begin ons oproepe van die gemeenskap kry oor waar hy op die dorp gesien is.

“Elke keer het ons sy eienaar laat weet, dan klim hy in ’n taxi, ry tot daar en bring ’n geruime tyd in die betrokke omgewing deur om na Papa te soek,” sê Maritz.

Omdat so baie mense van Papa geweet het en hom probeer vang het, het hy bang en verwilderd geraak en aanhou weghardloop.

Die DBV het toe ’n beroep op mense gedoen om die hond nie te probeer vang nie, maar om hulle eerder te skakel sodat hulle hom kan vang.

Dinsdag het hulle ’n oproep ontvang waarvolgens die hond op die dorp se gholfbaan gesien is.

“Jonas Nikodemus en Alfred Schmidt van die DBV het in ’n voertuig gespring en na die golfbaan gejaag. Papa het in die duine in gehardloop en omdat die DBV nie ’n 4x4 het nie, het die manne hom soos voorheen te voet agternagesit.

“Maar die mans het moeg geword en gedink hulle sal hom nie weer kan vang nie. Toe het mans op vierwielmotorfietse verbygekom. Hulle is gevra om Papa deur middel van die motorfietse se geraas terug na die DBV-mans te jaag. Dit het gewerk en Alfred het hom gevang.”

Papa was baie moeg en uitgeput, en is onmiddellik na die veearts geneem waar hy ondersoek is.

“Hulle was tevrede met sy toestand en hy is gesond. Hy sal tot vandag toe by die DBV bly sodat ons ’n ogie oor hom kan hou. Daarná kan hy huis toe gaan.

“Sy eienaar het ’n bietjie later by die DBV aangekom om vir hom te kuier en seker te maak hy is gesond. Hy het Papa sedertdien elke dag kom besoek.”

Volgens Maritz kom Papa uit ’n baie liefdevolle huis, wat duidelik is omdat hy nooit aggressief teenoor enigiemand was nie.

“Dit was ’n spanpoging tussen die DBV, die eienaar, die motorfietsryers en Walvisbaai se diereliefhebbers.

“Die eienaar het nie geld om vir Papa te laat steriliseer nie. As enigiemand daarmee wil help, kan hulle die DBV óf Southern Cross Veterinary Practice op Walvisbaai kontak. Ons, Papa en sy baas sal dit baie waardeer.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!