Papo en Hilfiker se spanwerk beklink Quest

Bergfietsry
Stefan Noechel



Namibiërs het in die meeste kategorieë as wenners na vore getree in die internasionale sesdaagse skofresies tussen Windhoek en Swakopmund, bekend as die Windhoek Light Namib Quest.

Die afstand van 520 kilometer op bergfietse is in 20 ure, 18 minute en 59 sekondes deur die wenspan in die mansresies, Xavier Papo en Clinton Hilfiker in die kleure van Hollard voltooi.

Die wenpaar het met 'n voorsprong van net meer as 'n uur voor die tweede geplaaste Heinrich Köhne en Ananias Kamati (Cycledelic) klaargemaak, terwyl die Suid-Afrikaners Raymond en Bertus Odendaal (Four Brothers) die derde plek ingeneem het.

Die solo manswenner was Vanni Balboni van Italië (21 ure 07 minute) en die solo vrouewenner was Nicola Fester (27 ure 16 minute).

Balboni het sy kategorie voor Sven Strohmenger (tweede) en Christian Stadler van Switserland gewen, terwyl Maroshell Odendaal (RSA) tweede van die solo-vroue was.

Cymot het die wenspan in die vroueresies opgelewer, naamlik Louise Ferreira en Courtney Liebenberg, wat reeds van die eerste dag af voorgeloop het.

Tweede was die Raceday Cycle Girls, Jolynde Aucamp en Johanita de Waal, gevolg deur die Blue Bloods (Anri Parker en Wanda Tattersall).

Die kanniedoodspan van Johan Fourie en Irene Steyn (The Bold en the Beautiful) het die gesogte kategorie vir gemengde spanne van die eerste dag af oorheers en het uiteindelik met 'n groot voorsprong gewen.

'n Uitsoekgroepie van net 39 ryers het by die beginstreep in Windhoek aangetree, van wie 37 uiteindelik Swakopmund gehaal het. Die roete het deur die Khomas Hochland en die Namibwoestyn gestrek met die daaglikse skofte onderskeidelik 71 km, 48 km, 102 km, 87 km, 64 km en die langste ter afsluiting 148 km.

Die Namibië Brouerye as hoofborg het geldpryse insluitend N$20 000 vir die wenners in die spankategorieë, asook N$10 000 vir die solo-kategorieë op die spel geplaas.

Die volledige lys voltooiers in die onderskeie kategorieë (Namibiërs, tensy anders aangedui):



MANSPANNE

1 Hollard (Xavier Papo en Clinton Hilfiker) 20:18:59

2 Cycledelic (Heinrich Köhne en Ananias Tamati) 21:40:50

3 Four Brothers (Bertus Odendaal en Raymond Odendaal, RSA) 22:16:50

4 Quest Attack (Pierre Lambert en JD Engels) 23:34:06

5 Die Basters (Stefanus Feris en Theo Klein) 25:36:57

6 Desert Crawlers (Marnus Lemmer en Jan van Blerk) 28:35:11

7 Forklift & Allied (Sven Tegethoff en Klaus Papendieck) 30:52:20

8 Weekend Warriors (Christiaan Horn en Danie Small) 31:45:50

• Vianney Links en Brandon Stiger het individuele medaljes as voltooiers ontvang, hoewel hul onderskeie spanmaats Tuhafeni Hamundjebo en Flippy de Klerk sekere skofte nie kon klaarmaak nie.



GEMENGDE SPANNE

1 The Bold and the Beautiful (Johan Fourie en Irene Steyn) 23:33:11

2 Cymot Scott Mixed (Sandra Lippert en Axel Theissen) 26:59:39

3 Swazi Frontier (Brett Foss en Lesley Foss, eSwatini) 29:14:07

4 NBL Soul Partners (George Thiele en Daleen Steyn) 29:23:58



VROUESPANNE

1 Team Cymot (Louise Ferreira en Courtney Liebenberg) 24:45:15

2 Raceday Girls (Jolynde Aucamp en Johanita de Waal) 26:11:39

3 Blue Bloods (Anri Parker en Wanda Tattersall) 27:13:43



SOLO MANS

1 Vanni Balboni (Italië) 21:07:58

2 Sven Strohmenger 23:23:16

3 Christian Stalder (Switserland) 25:49:36



SOLO VROUE

1 Nicola Fester 27:16:56

2 Maroshell Odendaal (RSA) 31:09:07

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer