'Pappa, hou aan bid'
'Pappa, hou aan bid'

'Pappa, hou aan bid'

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die 13-jarige Angela Maiba se laaste woorde Sondagoggend aan haar pa voordat sy saam met haar skoolmaats op die bus geklim het, was: “Pappa, hou aan bid.”

Haar ma, me. Emilie Maiba, het gister vertel haar dogter het 'n voorbode gehad.

“Selfs my man ook.”

Sy sê hoewel Angela uitgesien het na Windhoek Gymnasium se graad 7-toer na die Oranjerivier, was sy onrustig.

Angela en 'n klasmaat, Jacques Venter, het gesterf toe die toerbus sowat 40 km voor Mariental van die pad gery en gerol het.

Maiba sê hulle was Sondagoggend laat en het nie soos normaalweg gebid voordat hulle skool toe gery het om Angela te gaan aflaai nie.

“Toe ons daar kom, het Angela haar sak gevat en teruggedraai na haar pa en vir hom gesê om nooit op te hou bid nie,” vertel Maiba.

Haar man is brig.genl. Freddy Maiba.

Die gesin van sewe was tot September verlede jaar in die buiteland as deel van 'n diplomatieke sending.

“My man was 'n verdedigingsraadgewer in Ethiopië en by die Afrika-unie,” vertel sy. Angela is die middelkind van vyf.

Sy was vroeër die jaar vanweë 'n rugbesering vir etlike weke uit die skool.

Maiba sê om te sê haar dogter was wonderlik, is “'n onderbeklemtoning”. Sy sê Angela was diep gelowig en het akademies uitgeblink.

“Eintlik moet haar vriende en onderwysers oor haar praat; mense kan sê ek hemel haar op.”

Die Maibas het, nadat hulle Sondag in kennis gestel is van die busongeluk wat omstreeks 08:45 plaasgevind het, in die motor geklim om Mariental toe te ry.

Sy sê hulle was net buite die stad toe hulle die oproep gekry het dat Angela dood is.

“Ons moes terugdraai om iemand te kry wat vir ons kon bestuur. “My man was nie in staat om self verder te ry nie.”

Intussen is die 33-jarige busbestuurder, mnr. Uasora “Skoko” Uanivi, gister in die landdroshof op Mariental borgtog geweier toe hy vlugtig voor landdros Anna Kruger op klagte van strafbare manslag en dronkbestuur verskyn het. Uanivi is op die ongelukstoneel in hegtenis geneem.

Die aanklaer, me. Loide Nghixulifwa, het borgtog teengestaan. Die hof is ook meegedeel die klag van dronkbestuur kan eers voltooi word wanneer die uitslag van die bloedtoets bekend is.

Die uitslag van die blaastoets op die toneel was 0,19 mg/1 000 ml asem.

Sespakke met bier is glo onder sy sitplek in die bus gevind.

Kruger het Uanivi se verhoor tot 31 Oktober uitgestel, en hom meegedeel hy kan intussen 'n formele borgtogaansoek indien.

Republikein kon intussen nog nie telefonies met Jacques se ouers kontak maak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!