Parkeer Geingob-inhuldiging: Itula

’n Minister sê die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat is op ’n buitengewone, waaghalsige sending.
Denver Kisting
Denver Kisting – Dr. Panduleni Itula, die tandarts, Swapo-lid en voormalige onafhanklike presidensiële kandidaat, is besig met ’n absurde aansoek wat op die misbruik van hofprosesse neerkom.

Só vaar dr. Peya Mushelenga, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, in hofstukke uit oor Itula se jongste poging om deur die hooggeregshof gehoor te word.

Volgens Mushelenga het Itula verlede maand in die openbaar die uitspraak van die hooggeregshof en die egtheid van pres. Hage Geingob as staatshoof erken en aanvaar.

Itula het gister gesê sy gelukwensing aan Geingob en klaarblyklike aanvaarding van die uitspraak kan hom nie sy regte ontneem nie.

Hy het dit net gedoen om die vrede te bewaar, sê hy.

Itula ontken ook sy vars geding hou net met artikel 81 van die Grondwet verband, wat die bindende aard van die uitsprake van die hooggeregshof uiteensit.

Dit bly steeds ’n kieswetkwessie, sê hy.

Mushelenga sê verlede maand se uitspraak was die einde van Itula se regsopsies.

Boonop, sê Mushelenga, is Itula se aansoek nie dringend nie.

Die tandarts sê egter dit is wel dringend omdat dit voor 21 Maart besleg moet word.

Geingob word na verwagting op daardie dag vir sy laaste termyn ingehuldig.

Itula sê dit maak nie saak dat staatshoofde reeds na die geleentheid genooi is nie.

Hulle kan gewoon ingelig word die geleentheid word uitgestel tot die hof uitsluitsel gegee het oor die weg vorentoe.

Itula se hernude poging is van niks anders as ’n akademiese aard nie, sê Mushelenga, “omdat dit nie geskoei is op wesenlike ongerymdhede wat verband hou met die verkiesingsproses of die kiesuitslae nie”.

Die hooggeregshof het verlede maand gelas die gedeeltelike inwerkingstelling van die kieswet om van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) sonder ’n naspeurbare papierspoor gebruik te maak, was onregmatig en ongrondwetlik.

Desondanks het die hof nie vir Itula gelyk gegee om ’n herverkiesing te gelas nie.

Mushelenga sê Itula se oggend- en aandpraatjies stem nie ooreen nie, omdat die tandarts aanvanklik vir Geingob gelukgewens het en later gesê het hy mik weer hof toe.

Die minister sê die regering het reeds begin voorbereidings tref vir Geingob se inhuldiging.

“Die uitspraak het die weg gebaan vir die voorbereiding. Die regering het reeds uitnodigings gestuur aan hooggeplaastes om die geleentheid by te woon,” sê Mushelenga.

Volgens hom sluit dit staats- en regeringshoofde in. Van hulle het reeds hul teenwoordigheid bevestig, sê hy.

“Ter voorbereiding vir die geleentheid het die regering ook gesteun op die verklaring van die eerste aansoeker (Itula) wat die uitspraak as finaal en bindend verwelkom het.”

Itula sê sy woorde was g’n verklaring nie.

Omdat regeringshulpbronne skaars is, sal die staat en Namibiërs onder geweldige benadeling gebuk gaan as Geingob se inhuldingsgeleentheid afgelas word.

Itula sê die hooggeregshof het egter self gesê kosteimplikasies kan nie die enigste oorweging wees nie.

Itula en kie wil net twyfel wek oor die geldigheid van Geingob se verkiesing as president, sê Mushelenga.

Itula het tweede geëindig in verlede jaar se presidensiële verkiesing.

Hy het 29,4% van die stemme op hom verenig teenoor Geingob se 56,3%.

Mushelenga sê die regering het reeds begin om die uitspraak in werking te stel.

Gevolglik vind tussenverkiesings later vandeesmaand deur middel van stembriewe plaas, sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!