Parlementslede moet bates weer verklaar
Die akkuraatheid van die bateregister hang van die parlementslede se eerlikheid af.
Ogone Tlhage - Die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, het aangedui parlementslede gaan weer herinner word om hul bateregisters vir die huidige kalenderjaar by te werk en in te dien.
Dit strook met die bepalings van die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Kwytskeldings van die Parlement van 1996, en is 'n opdrag van pres. Hage Geingob self, wat saam met sy vrou, me. Monica Geingos, hul bates in 2015 gesamentlik verklaar het.
Van parlementslede word verwag om hul aandele en ander finansiële belange, direkteurskap, vennootskap en raadlidmaatskap, alleeneienaarskap, betaalde werk buite die parlement, laste van meer as N$20 000, nie-roerende eiendom, rekeninge by finansiële instellings van meer as N$20 000, reisafslag, geskenke, borgskappe, konsultasiewerk, pensioene en ander materiële voordele te verklaar.
Me. Lydia Kandetu, die speaker se sekretaresse, het gesê die speaker sal vandeesmaand 'n beroep op parlementslede doen om hul bateregisters in te handig.
“Die agbare speaker, prof. Peter Katjavivi, sal soos gewoonlik parlementslede in April daaraan herinner. Sodra die sekretariaat die opsomming voltooi het, sal dit openbaar gemaak word,” het Kandetu gesê.
In die verlede is berig hoewel parlementslede sal openbaar wat hulle besit, die parlement tot dusver sonder 'n ouditstelsel vir die bateverklarings is.
Dit beteken die sekretariaat en die akkuraatheid van die bateverklaringsregister hang alleenlik van parlementslede se eerlikheid af.
Tot dusver is mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, die enigste kabinetslid wat 'n geouditeerde bateregister ingedien het.
Die laaste keer wat parlementslede hul bates verklaar het, was in 2015 en 2016.
Windhoek Observer het in 2018 berig nie een van die 104 parlementslede het in die 2015- en 2016-bateverklaring verklaar dat hulle voertuie besit nie, behalwe die toe pasaangestelde adjunkminister van staatsondernemings, mnr. Veikko Nekundi.
Mnr. Erkki Nghimtina, minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, het gesê hy besit 400 aandele in Old Mutual, 'n huis in Windhoek van 1 050 vierkante meter, 'n plaas by Otavi van 5 400 ha en 'n tradisionele huis by Omahenge op 'n plot van 9,8 ha.
Me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, adjunk- eerste minister, het verklaar sy besit net twee huise, een op Hentiesbaai en een op Eenhana, asook 'n plaas van 6 200 ha.
Behalwe vir 'n huis op Omuthiya, wat die minister van verdediging, mnr. Penda ya Ndakolo, in 2015 verklaar het, het hy niks in sy 2016-bateregister verklaar nie.
Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, se bateregister wys hy is nie aan enige maatskappy verbonde nie.
Hy het verklaar hy het vier huise – twee op Rundu, een in Windhoek en nog een in die Shankara-nedersetting.
Eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila het verklaar sy het 50% se aandele in Seize the Moment Investment 56 CC, 'n plaas en drie eiendomme in Windhoek.
Die adjunkspeaker van die NV, me. Loide Kasingo, het verklaar sy het 16% se aandele in Luxury Investment 165, 'n mediese administrasiemaatskappy.
Sy het ook twee huise in Windhoek en Swakopmund.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie