Partye wil kunste bevorder

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

Om stemme te werf, moet partye wat aan die verkiesingsveldtog deelneem, fokus op die behoeftes van verskillende belangegroepe. Die partye wat aan Woensdag se streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesings deelneem, sal moontlik ander strategieë moet volg om stemme binne dié spesifieke groepe te wen.

Een van die bedrywe wat besonder hard deur die pandemie en gepaardgaande inperkings getref is, is die plaaslike kuns- en vermaakbedryf.

Verskeie individue en groepe in dié sektor se lewensbestaan en inkomste is negatief deur die noodtoestand beïnvloed.

Sedertdien is al verskeie pleidooie aan die regering gerig om in te gryp en die bedryf te beskerm – nie net as deel van Namibië se kulturele erfenis nie, maar ook as 'n bron van inkomste vir vele kunstenaars.

KUNSTENAARS Sê

Hoewel 'n noodfonds vir kunste vroeër vanjaar onder die vaandel van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur op die been gebring is, het sekere kunstenaars steeds hul ontevredenheid uitgespreek oor die manier waarop die fonds bestuur word.

Mnr. Joseph Keamogetsi Mola­pong, 'n digter, dramaturg en regisseur, het destyds dié inisiatief “onprakties” genoem. Molapong is ook 'n lid van Township Productions, 'n teaterproduksiemaatskappy, wat poog om kwessies soos armoede en 'n gebrek aan onderwys te takel en terselfdertyd maatskaplike en kulturele ontwikkeling in kwesbare gemeenskappe aan te moedig.

Molapong het gesê wat hy as kunstenaar van politieke partye verwag.

“Die eerste ding wat hulle moet doen, is om hul ingesteldheid teenoor kuns te verander. Die kunstebedryf is bloot afgegradeer tot vermaak of 'n stokperdjie. Namibiese politici moet nie kuns as 'n tydvuller tussen toesprake beskou nie,” sê hy.

Hy voeg by: “Kuns, as dit beter verstaan en waardeer word, is 'n katalisator vir verandering. Dit is die voertuig wat die belangrike boodskappe, gedagtes en idees van 'n nasie kan oordra. Kunste kan nasionale ontwikkelingsplanne en -agendas bevorder en politici moet die ekonomiese waarde raaksien wat die kunste kan bied.”

Volgens Molapong moet kunstenaars 'n hoër aansien van hulself en hul kuns ontwikkel, voordat hulle respek en eerbied van politici en ekonomiese rolspelers kan verwag.

Tweedens, sê hy, moet kunstenaars 'n meer proaktiewe en verantwoordelike rol in die sosioëkonomiese en politieke programme in Namibië speel.

Politieke partye moet egter nie die kunsbedryf gebruik om propaganda te versprei nie, sê hy. Volgens Molapong moet wetgewing ingestel word wat die kunsbedryf in Namibië kan reguleer.

Ten opsigte van Namibiese literatuur, meen hy politici en hul partye moet meer Namibies-gesentreerde letterkunde aanskaf en versprei na alle streek-, gemeenskaps- en skoolbiblioteke oraloor die land. “Die onderwysstelsel moet gedwing word om meer Namibiese literatuur in die skoolkurrikulum te integreer.”

PARTYE Sê

Me. Brunhilde Cornelius, die Republican Party (RP) se kandidaat vir die Windhoek-Oos-kiesafdeling, sê as 'n politieke party erken die RP die waarde van kuns en kultuur vir individue en die land. “Die RP voel sterk oor die voortgesette beskerming en bevordering van kuns- en kultuurgroepe, aangesien dit die skakel tussen die verskillende etniese groepe in Namibië is,” sê sy.

“Die RP besef kuns en kultuur het 'n wyer impak op gesondheid, onderwys, welstand en die nasionale ekonomie.”

Indien die RP verkies word, sal hulle pleit vir die bevordering van kuns en kultuur by verskillende instellings om die kreatiewe vaardighede van die leergemeenskap te bevorder. Verder sal die party hom beywer om die kunste as medium tussen verskillende etniese groepe te gebruik, “aangesien Namibië 'n multikulturele republiek is.”

Laastens, sê Cornelius, sal die RR kuns as medium gebruik om siggestremde Namibiërs in staat te stel om met mekaar en mede-Namibiërs te kommunikeer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!