Partygeld kry glo voete
Partygeld kry glo voete

Partygeld kry glo voete

Meer as N$2 miljoen is glo oor sewe maande uit die party se bankrekening onttrek.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) ondersoek tans die Workers Revolutionary Party (WRP) weens die beweerde wanbesteding van openbare fondse.

Die ACC se hoofondersoekbeampte, mnr. Nelius Becker, het die ondersoek bevestig en gesê dit volg op beweringe dat lede van die party groot bedrae kontant sonder goedkeuring uit ’n rekening onttrek het.

ACC-beamptes het op 17 Mei op die party se kantoor toegeslaan ná hulle ’n lasbrief hiervoor gekry het.

Hulle het beslag gelê op rekenaars en alle finansiële dokumentasie wat op die perseel was.

Die WRP, wat net soos alle ander politieke partye volgens die ACC-wet ’n openbare liggaam is, het sedert 27 September 2017 meer as N$5 miljoen se skenkings ontvang, wat in die party se bankrekening gedeponeer is.

Becker het gesê ná die rekening nagegaan is, is ontdek dat ’n kontantbedrag van sowat N$2 245 000 binne die sewe maande tussen 27 September 2017 en 25 April vanjaar onttrek is.

Hy het bygevoeg daar is ook ontdek die party het geen boekhoustelsel nie.

Op grond van dokumentasie waarop beslag gelê is, het die ACC bepaal rekenskap kon van N$1 284 315,84 gegee word.

’n Verskil van N$960 684,16 bestaan egter tussen die bedrae wat uit die rekening onttrek is en dít waarvoor volgens die dokumentasie rekenskap gegee kan word.

“Dit wil voorkom of die grootste deel van die kontant wat onttrek is, vir persoonlike lenings aan partylede gebruik is," het Becker gesê.

Hy het gesê die ondersoek duur voort en is uitgebrei om vas te stel of alle aankope verband hou met goedere wat verkry is in ooreenstemming met die WRP se politieke bedrywighede, funksies en doelwitte - en nie vir private doeleindes nie.

"Tans ondersoek ons die oortreding van artikel 43 van die ACC-wet, die korrupte gebruik van posisies vir verryking, en moontlike misdrywe ingevolge die verkiesingswet met betrekking tot die gebruik van geld wat aan politieke partye toegeken is," het Becker gesê.

Hy het gesê politieke partye is ingevolge die verkiesingswet verplig om 'n lys van hul bates en laste te verskaf. Hulle moet ook jaarliks geouditeerde finansiële state aan die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) verskaf.

Kaapala se klagte

Die ACC-ondersoek is ingestel ná mnr. Benson Kaapala, ’n parlementslid van die WRP, ’n klagte by die kommissie aanhangig gemaak het.

Sy posisie as parlementslid is intussen glo herroep.

Kaapala het in sy klagte geskryf sy medeparlementslid, mnr. Salmon Fleermuys (wie se posisie in die parlement glo óók intussen herroep is), en die party se waarnemende sekretaris-generaal, mnr. Klaus Weichhaus, was vir hul finansiële bestuur verantwoordelik.

Dié twee, saam met Kaapala, het tekenregte op die party se bankrekening gehad.

Kaapala het gesê in Februarie is dit onder sy aandag gebring dat Fleermuys en Weichhaus groot bedrae kontant sonder sy medewete of toestemming onttrek het.

In sy klagte beskuldig hy Fleermuys en Weichhaus daarvan dat hulle N$3 240 603,56 onwettig onttrek het.

Kaapala het gesê hy was slegs bewus van transaksies wat N$409 568,06 beloop het.

Die handelsbank het die party se rekening op 21 Mei gesluit.

‘Egte verteenwoordiger’

Mnr. Hewat Beukes, wat by die ECN as die party se “egte verteenwoordiger” geregistreer is, het Kaapala daarvan beskuldig dat hy op 7 Februarie N$100 000 en op 15 Februarie N$50 000 wederregtelik uit die party se rekening onttrek het.

Beukes het mnr. Immanuel Samakupa ook daarvan beskuldig dat hy N$20 000 wederregtelik onttrek het.

Hy het ontken dat die party 'n kantoor op Okahandja het, en gesê die betrokke kantoor is "in die WRP se naam as 'n geldwassery-kantoor opgerig".

In reaksie op dié bewerings het Kaapala gesê Beukes het "niks met die WRP se finansies te doen nie" en dat alle kwitansies saam met notules van vergaderings oorweeg moet word waar die besteding van geld bespreek is.

Kaapala het ook gesê omdat die party gedurende 2015, 2016 en die grootste deel van 2017 geen geld van die parlement af ontvang het nie, het hy sy eie geld gebruik om die party se aktiwiteite te finansier.

Samakupa het gesê hy het die N$20 000 ontvang om sy voertuig te diens, wat hy vir party-aktiwiteite gebruik het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!