Pasiënte stel huurders bloot
’n Sakeperseel in Windhoek is sonder die huurders se medewete gebruik om drie Namibiërs te huisves wat positief vir Covid-19 getoets het.
Henriette Lamprecht – Drie Namibiërs wat positief vir Covid-19 getoets het, was vir meer as ‘n week die tydelike inwoners van ‘n bekende sakeperseel in Windhoek sonder dat huurders van hul gesondheidstatus bewus was.
Die sakeperseel huisves onder meer verskeie restaurante wat tydens die grendeltydperk wegneemetes voorberei, asook besighede wat as noodsaaklik geïdentifiseer is. Verblyfsgeriewe sluit luukse selfsorgeenhede in.
Die bestuurder van die Village Management Company, mnr. Dean Spall, skryf dit aan ‘n “gebrek aan kommunikasie” aan die kant van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) toe.
Volgens Spall het die ministerie in gesprek met een van die verhuurders getree om die perseel moontlik te gebruik om personeel in kwarantyn te huisves.
Dit is glo egter nooit duidelik gemaak presies vir wie en waarvoor die geriewe gebruik sou word nie.
Op 4 April het MoHSS die verhuurder laat weet hulle gaan wel van die geriewe gebruik maak en op 7 April het “van die mense” die eenhede betrek, sê Spall.
Volgens Spall is navrae aan MoHSS gerig toe gerugte die ronde begin doen die tydelike inwoners het positief vir Covid-19 getoets.
‘n Ontmoeting het op 15 April op die perseel met die ministerie gevolg wat erken het die persone het wel positief vir die siekte getoets.
“Ons het dit eers byna agt dae later uitgevind. Dit was ‘n gaping in kommunikasie,” het hy gesê.
Twee van die drie pasiënte is reeds dieselfde dag van die perseel verwyder, terwyl die derde persoon die volgende dag die woonstel ontruim het.
Kontakte is volgens Spall onder meer deur kringtelevisiekameras en veiligheidspersoneel nagespoor.
“Die pasiënte het wel rondbeweeg, maar het nêrens in enige noue kontak met werknemers gekom nie en ook nooit die woonstelle binnegegaan nie.”
Volgens Spall is alle mense op die perseel in self-isolasie geplaas en is die perseel ook deur ‘n span ontsmet.
Hoewel Spall sê huurders is oor die verloop van sake ingelig toe dit bekend word die woonstelle word deur Covid-19-pasiënte beset, sê ‘n ingeligte bron huurders moes noodgedwonge self die ministerie kontak om uitsluitsel te kry.
“Nie een keer is ons oor hierdie mense se status ingelig nie. Ons het gesien hoe hulle in die kompleks rondbeweeg en selfs een persoon ‘n taxi sien neem.
Hulle is met ambulanse hier afgelaai en weer weggevat. Met die inspeksie op Woensdag 15 April was die dokters ten volle in beskermende klere (PPE’s) geklee wat mos wys dit was ernstige gevalle,” het die bron gesê.
Die verblyfsgeriewe sluit volgens die bron agt kamers in waarvan twee langtermynhuurders is. Die bron sê net die “woonstelle en die trappe” is ná die pasiënte se vertrek ontsmet, dit terwyl hulle glo ook op die res van die perseel rondbeweeg het”.
Volgens die bron was die verhuurder van die woonstelle “ten volle bewus” van die situasie en is besluite geneem sonder om enige van die ander huurders op die perseel in ag te neem.
Die verhuurder sou glo ook erken het die eenhede word deur “mediese personeel gebruik wat op hul toetsuitslae wag”.
“Sou hulle positief toets, sou hulle steeds in die eenhede gehuisves word.”
Volgens die bron is die perseel “totaal ongeskik” vir kwarantyn.
“Tog is pasiënte hierheen gebring terwyl hulle ten volle bewus is hier is ander gesonde huurders, asook sake- en restaurantpersoneel wat die perseel binnekom en verlaat. Hulle (pasiënte) het rondgeloop sonder maskers of handskoene, die hele perseel besmet en so almal hier in gevaar gestel. Hulle was bewus daarvan dat hulle ander gesonde mense aan die virus blootstel.” - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie