Passasiers boos vir Air Namibia
Ontevrede kliënte meen die nasionale lugredery moet hul sokkies optrek, veral wat kliëntediens en beter kommunikasie oor vertraagde vlugte betref.
Francoise Steynberg - Air Namibia moes sommer drie keer verskoning vra vir vertraagde vlugte, maar geraakte passasiers is woedend en kla oor swak kliëntediens.
Die eerste verskoning was oor 'n onderstel wat langer as verwag gevat het om in die eerste week van Desember te vervang, tweedens het 'n lorrie op 14 Desember teen 'n Air Namibia-vliegtuig op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Johannesburg gebots, en derdens was vier kajuitbemanningslede glo dronk, wat vlug SW722 Maandagoggend van Johannesburg na Windhoek met byna ses ure vertraag het.
Dít het weer daartoe gelei dat dat die Windhoek-Luanda-roete en die roete van Windhoek na Lagos en Accra in Wes-Afrika met sewe ure vertraag is.
"Twee kajuitbemanningslede en een eerste offisier het positief vir alkohol getoets. 'n Ander kajuitbemanningslid het geweier om 'n alkoholtoets te doen," het Air Namibia se woordvoerder, mnr. Paul Nakawa, gesê.
"Al vier is onmiddellik van hul pligte onthef en 'n ander span moes van Windhoek af gestuur word."
Nakawa het gister bevestig die kajuitbemanning se dissiplinêre verhoor sal volgende week plaasvind sodra die bestuurder, kapt. William Ekandjo, terug op kantoor is.
Nakawa het ook beweringe van passasiers op die SW722-vlug ontken dat daar "'n oproer op die vliegtuig met dronk kajuitbemanning was".
"Dit is nie reg nie, want die vlug is deur ander bemanningslede gevlieg, hoewel passasiers ongelukkig was met die lang vertraging," het Nakawa gesê.
'FIASKO'
Maar passasiers blaas omtrent stoom af oor vertraagde vlugte nadat Air Namibia 'n belangrike kennisgewing met die drie verskonings op hul Facebook-blad geplaas het.
'n Manlike passasier skryf sy vlug was Maandag vertraag sonder enige vooraf kennisgewing. Boonop het hy waardevolle bagasie verloor. Sy vlug Woensdag van Johannesburg na Windhoek was ook gekanselleer – ook sonder enige vooraf kennisgewing.
"Ek moes van 'n ander lugredery gebruik maak. Ek wag ook steeds op Air Namibia om my te kontak oor my verlore bagasie. Dit is die eerste keer wat ek met Air Namibia reis en ek is geensins 'n gelukkige kliënt nie," skryf hy.
'n Vroulike passasier skryf sy wag nou nog vir terugvoer oor waarom vlug SW730, wat op Sondag 16 Desember om 07:20 uit Johannesburg na Walvisbaai moes vlieg, eers om 16:30 vertrek het.
"Ons is om 18:00 in Windhoek, sonder enige verduideliking, afgegooi. Die vlieënier was verskriklik ongeskik. Ons moes oorslaap en is belowe ons sou die volgende dag om 14:30 in Walvisbaai wees.
Die vlug (SW715) het glo eers om 16:30 na Walvisbaai vertrek.
"Toe kon die deur nie oopmaak nie en ons moes in die vliegtuig bly. Mobiele trappe is gebring, maar dit was 70 cm te kort. Ons het die keuse gehad om te spring!" skryf sy.
"Toe vergeet hulle om van ons bagasie af te laai. Ek het nog geen terugvoer of amptelike verskoning van Air Namibia ná vele navrae oor hierdie fiasko gekry nie!"
"Van hero tot zero," skryf 'n Namibiër, wat verwys na Air Namibia wat vandeesweek nog gespog het oor hul eerste vlug met net vroulike bemanningslede van Windhoek na Frankfurt.
Nakawa sê "Air Namibia vra opreg verskoning en verseker ons passasiers dit is veilig om met Air Namibia te vlieg. Ons is bewus van die veiligheid van ons passasiers, en sal nooit 'n vliegtuig laat vlieg as dit nie veilig is nie".

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie