Passasiers in die visier

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer in Dublin - Toe die son op 22 Maart vanjaar by Brussel se lughawe in Zaventem en by die Maalbeek-metrostasie in dié stad opkom, was dit ’n dag soos enige ander.

Skarrelende passasiers, hartseer en blydskap met die afsien en verwelkoming van geliefdes, beamptes en grondpersoneellede wat doen wat moet gedoen word, afkondigings oor die interkom, vliegtuie wat opstyg en land . . . die normale verloop van sake.

Aan die einde van daardie dag was 35 mense dood – 32 onskuldige slagoffers en die drie selfmoordbomaanvallers wat twee bomme by die lughawe en een by die metrostasie laat ontplof het.

Bietjie minder as twee maande vóór dit het ’n bom versteek in ’n skootrekenaar op die Airbus A321 van Somalië se Daallo Airways, vlug 159, afgegaan.

Drie mense, onder wie die selfmoordbomaanvaller, is deur die reusegat gesuig wat deur die plofstof in die romp van die vliegtuig geruk is. Gelukkig was dit kort ná opstyging en kon die vlieënier terugdraai en veilig in Mogadisjoe land.

Die 224 passasiers en bemanningslede wat op 31 Oktober verlede jaar aan boord die vliegtuig van Metrojet se vlug 9268 van Kaïro na Rusland gevlieg het, was nie so gelukkig nie. Toe die Islamitiese Staat (IS) se selfgeprakseerde kragtige bom 23 minute ná opstyging ontplof, het die vliegtuig in die Sinaï-woestyn in Egipte neergestort en almal het gesterf.


Lugvaart as teiken

Hierdie terreuraanvalle van die afgelope sewe maande was die felste sedert die 9/11-aanslag op die Twin Towers in New York. Lugvaart – en passasiers – is opnuut in die visier van terrroriste; hierdie keer klaarblyklik die IS.

Daarom is verwag dat dit een van die fokuspunte op die agenda van die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) se 72ste algemene jaarvergadering en die Wêreldlugvaartberaad verlede week in Dublin, Ierland, sou wees.

Op 2 Junie het die vereniging se 264 lidrederye eenparig ’n resolusie aanvaar waarin hulle hierdie dade van terrorisme veroordeel en ’n beroep gedoen het op regerings en die lugvaartbedryf in sy geheel om nouer saam te werk om terreuraanslae te voorkom.

Mnr. Tony Tyler, direkteur-generaal en hoof uitvoerende beampte van Iata, het soos volg op die voorvalle van die afgelope maande gereageer: “Die hoeksteen van sekuriteit is deur hierdie tragedies geruk. Gedurende die afgelope twaalf maande het terroriste aanspreeklikheid aanvaar vir die grudade op die vlugte van Metrojet 9268, Daallo 159 en by die lughawe in Brussel.

“Dit is neerdrukkende herinneringe dat lugvaart kwesbaar is. Lugrederye steun op regerings om passasiers en werknemers te beskerm as deel van hulle nasionale verantwoordelikheid ten opsigte van sekuriteit en ons verbind ons om hierdie uitdaging saam met hulle aan te pak,” het hy gesê.

In die resolusie (sien kassie hiernaas) word ’n beroep gedoen op lugrederye en lughawens om saam met ander sleutelspelers die terrorismegevaar die stryd aan te sê en dit af te weer.

Op ’n vraag deur Republikein of lugrederye in kontak is met intelligensie- en sekuriteitsagentskappe vir inligting oor moontlike terreuraanvalle, het Tyler gesê dié vereniging steun op regerings en burgerlugvaartowerhede om dit te bekom.

“Intelligensie is die sterkste wapen wat regerings het om hul burgers te beskerm, of hulle nou tuis aan huis of iewers op reis is.”

Hierop wou ’n joernalis van die Wall Street Journal weet of Iata nie juis ’n leierskaprol ten opsigte van intelligensie-insameling oor moontlike aanvalle by lughawens of die plant van bomme op vliegtuie moet inneem nie.


Verbetering van stelsels

Tyler het ook opgemerk dat die groot getalle mense by lughawens ’n sagte teiken vir terreurgroepe is. Hy sê daarom probeer die bedryf om veiligheidsinisiatiewe te versterk deur praktiese stelsels soos Fast Travel en Smart Security te implementeer.

Fast Travel stel passasiers in staat om vinnig en maklik aanlyn te bespreek en bagasie-etikette reeds tuis uit te druk sodat hulle nie in lang rye by inweegtoonbanke hoef te wag nie. Smart Security is daarop gemik om die tydrowende deursoekingsproses by sekuriteitskontrolepunte te verbeter.

“Die huidige stelsels is doeltreffend, maar omslagtig. Baie lughawens kan nie meer die volumes passasiers en lang rye hanteer nie. Ons moet ons stelsels verbeter en lang rye uitskakel. As ’n passasier by die lughawe aankom, moet hy of sy gereed wees om aan boord te gaan,” het hy gesê.


Kubersekuriteit

Kuberaanslae is ’n ander sekuriteitsaspek waaroor die lugvaartbedryf bekommerd is.

Indien terreurgroepe toegang tot lugrederye en ander diensverskaffers in die lugvaartbedryf se rekenaarstelsel kry, kan hulle chaos en reuse-ontwrigtings veroorsaak.

Tydens ’n paneelbespreking oor dié kwessie het genl.maj. Linda Urrutia-Varhall van die Amerikaanse lugmag daarop gewys dat lugvaart vanaf 9/11 regdeur tot die Metrojet 9268-voorval terreurgroepe se sentrale fokus was.

“Ons moet internasionaal en multi-sektoraal die situasie ontleed, die gevare bepaal, prioritiseer en daarteen optree.”

Sy het daarop gewys dat die IS nie langer sy oorlog op die slagvelde in die Midde-Ooste voer nie. “Hulle bring die oorlog nou na ons toe. Ons kan aanvaar dat die bedreiging net groter en groter gaan word,” het Urrutia-Varhall gesê.

Mnr. Kurt Pipal, wat verbonde is aan die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) se kantoor in Brittanje, het daarop gewys hoe meer ’n bedryf deur middel van rekenaarstelsels en die kuberruim verbind is, hoe meer kwesbaar is dit vir kuberaanvalle.

Baie lugrederye bied deesdae vir passasiers internettoegang op hul vlugte aan. Dit beteken kuberaanvallers kan toegang kry tot die groot hoeveelhede data waaroor die lugvaartbedryf beskik, asook die data op individuele passasiers se selfone, tablette en skootrekenaars.

“Die probleem is dat daar nie een bepaalde stuk tegnologie is wat aangekoop en gebruik kan word om julle (lugvaartbedryf) teen hierdie bedreiging te beskerm nie. Sekuriteit is ’n proses. Dit behels volgehoue monitering om bedreigings te identifiseer en stelsels te versterk daar waar dit nodig is,” het hy gesê.

Mnr. Calin Rovinescu, hoof uitvoerende beampte van Air Canada, het aanbeveel dat die lugvaartbedryf die kuberaanvalle wat al op ander bedrywe geloods is, deurtastend bestudeer en daaruit leer.

In 2015 het kuberaanvalle bedrwye en instansies US$5 miljard gekos, sê hy en meen lugrederye moet kubersekuriteitsentrums inrig waar kundiges 24 uur per dag elke dag verseker kuberkrakers kry nie toegang tot die rekenaar- en datastelsels nie.

Hy meen ook lugrederye moet ’n sogenaamde “donker agent” aanstel wat moet probeer om by stelsels in te breek sodat swak plekke uitgewys kan word.







KASSIE:

Volledige resolusie oor terrorisme

Die lugvaartbedryf neem kennis dat lugvervoer ’n teikein vir terroriste bly en dat dit opnuut deur die onlangse reeks van tragiese terreuraanvalle op vliegtuie en lugvaartinfrastruktuur bewys is.

Die bedryf spreek sy kommer uit oor die talle konflikte wat tans in die wêreld woed en wat tot verdere terroriste-aanvalle kan lei.

Die bedryf erken dat lugvervoer ’n sleutelrol speel in sosiale ontwikkeling en vooruitgang vir regering, ekonomieë, sakeondernemings en gewone burgers en daarom beskerm moet word deur groepe wat lugvaart teiken om hul terrorisme-agendas te bevorder.

Die bedryf neem kennis dat die terreurbedreiging ’n kwessie van nasionale sekuriteit is waarin regerings die eerste aanspreeklikheid vir die beskerming van hul landsburgers het.

Die bedryf erken dat lugrederye ’n rol moet speel in aksies wat gemik is op die bekamping van terreur deur streng lugvaartsekuriteitstandaarde te handhaaf, waaksaam te bly en die hoogste vlak van gereedheid teen sulke dade te handhaaf.

Die bedryf benadruk dat ’n gekoördineerde benadering tot die bekamping van terroristebedreigings deur regerings, lugrederye, lughawens en ander belanghebbendes meer doeltreffend is as individuele aksies.

• Daarom herbevestig die 72ste algemene jaarvergadering van die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) sy verbintenis tot die veiligheid en sekuriteit van lugvaart en passasiers as sy eerste prioriteit;

• verwerp in die sterkste terme die feit dat lugvaart deur terroriste geteiken word met onskuldige burgerlikes as slagoffers;

• doen ’n beroep op lugrederye wat lede is van Iata, lughawens asook ander belanghebbendes om as vennote dié bedreiging te beveg;

• doen ’n beroep op regerings om onderling asook met die internasionale lugvaartbedryf saam te werk om terreurbedreigings af te weer; en

• doen ’n beroep op regerings en hul wetstoepassingsagentskappe om alle moontlike hulpbronne te ontplooi, veral hul intelligensiebronne, om terrorisme te beveg en terreur af te weer deur alle toepaslike inligting betyds en doeltreffend met die bedryf te deel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer