Passasiershyser op lughawe was oorlaai

Air Namibia se hysertoestel het op die aand van 13 Desember 2019 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako agtertoe gekantel waartydens ses passasiers beseer is.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Foutiewe toerusting was volgens ’n ondersoek die moontlike oorsaak van die passasiershyserongeluk wat ’n jaar gelede op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako plaasgevind het en ses passasiers beseer is.

Air Namibia se passasiers­ondersteunerseenheid (PAU), of passasiershyser, het op die aand van 13 Desember 2019 by die lughawe met elf mense agtertoe gekantel waartydens ses passasiers beseer is.

Die beseerde passasiers is na ’n private hospitaal in die hoofstad geneem. Drie passasiers is ná waarneming ontslaan en drie is vir etlike dae gehospitaliseer, lui die ongelukverslag van die direktoraat van vliegtuigongelukondersoeke (DAAII) in die ministerie van werke en vervoer.

Die passasiershyser SW 056 is die aand gebruik om eers twee bejaardes (die 84-jarige adjunk- eerste minister van Uganda, mnr. Kirunda Kivejinja, en sy vrou) wat ondersteuning nodig gehad het, by die Air Namibia-vliegtuig van vlug SW 7928 uit Johannesburg op te laai. Daarna het dit oorbeweeg na die vliegtuig van vlug SW 708 wat om 21:00 uit Kaapstad neergestryk het.

Dit is nog sonder probleme tot op die vlak van die vliegtuig se deur gehys, maar toe die passasiershyser grond toe laat sak is, het dit “weens ’n wanfunksie” skuins agtertoe gekantel.

Die passasiers en personeellede het in die een hoek van die hyser op mekaar geval, met die rolstoele wat bo-op hulle te lande gekom het.

Volgens die verslag was daar 11 mense aan boord van die hyser – twee grondhanteringspersoneellede, die drywer en agt passasiers – toe die voorval plaasgevind het.

“Die maksimum drakapasiteit van die toestel is agt mense of 1 000 kg,” lui die verslag van die ondersoekbeampte van DAAII, mnr. Theo Shilongo.

Volgens die verslag was die toerusting beskadig: “Die moontlike oorsaak is die wanfunksie van die regterkantste rollaerbuste van die wringkragas wat versoorsaak het dat die hyser neergestort het,” lui die verslag.

BYDRAENDE FAKTORE

Die bydraende faktore word in die verslag gelys as verslete rollaerbuste weens ’n gebrek aan deeglike onderhoud en diens van die toerusting; die oorskryding van die drakapasiteit van die hysertoestel; en ’n gebrek aan opleiding vir personeel.

“Dit is die ondersoekbeampte se mening dat die oorlading van die hyser met elf mense in plaas van agt of 1 000 kg, tot die voorval bygedra het,” lui die verslag

“Sommige van die 11 mense aan boord se veiligheidsgordels was nie vasgemaak nie wat veroorsaak het dat hulle na die agterkant gekantel het en ses mense beseer is.”

DAAII het bevind dat Air Namibia se toesighouers by die lughawe hul grondondersteuningspersoneel toestemming gegee het om die hyser te bedryf sonder dat enige formele opleiding, volgens die verslag.

Volgens die verslag het die drywer van die hyser net ’n GSE klas 1-sertifikaat gehad in plaas van ’n GSE klas 2-sertifikaat wat vereis word om dié toerusting te hanteer.

AANBEVELINGS

DAAII beveel aan dat Air Namibia hul onderhoudsprogram vir grondtoerusting moet hersien.

Ander aanbevelings is dat Air Namibia deeglik opgeleide personeel moet gebruik wat gekwalifiseer en gesertifiseer is om grondtoerusting te hanteer.

“Operasionele veiligheidsprosedures moet gevolg word, want sommige passasiers in die hyser se veiligheidsgordels was nie tydens die voorval vasgemaak nie,” lui die verslag.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer