Pastoor Babi bly agter tralies
'n Bekende Windhoekse 'profeet' en sy medebeskuldigde se borgtogaansoek is tot Woensdag uitgestel.
Francoise Steynberg – Die bekende selfverklaarde profeet van die charismatiese House of Joy Ministries, pastoor Jackson Babi (30), en sy 25-jarige medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni, sal môre hoor of hulle op borgtog vrygelaat sal word.
Landdros Linus Samunzela het gisteroggend tydens die twee beskuldigdes se vlugtige verskyning in die Windhoek-landdroshof hul saak in verband met renosterstropery, -horingsmokkelary en die onwettige besit van renosterhorings, 'n vuurwapen en ammunisie tot Woensdag vir hul formele borgtogaansoek uitgestel.
Weens die Covid-19-regulasies is geen media of die publiek in die hofsaal toegelaat nie.
Babi was gister in 'n maroen pak en swart hemp in die hof en sy pa en nog 'n manlike gemeentelid van die kerk, geklee in dieselfde pakke, was ontstig omdat hulle nie in die hofsaal toegelaat is nie. 'n Groep ondersteuners van Babi het weer die hofgange vol gestaan.
Nóg twee verdagtes het gister op Gobabis verskyn. Mnre. Alberto Mbwale en Joseph Matheus het op klagte van die onwettige jag van spesiaal beskermde wild ('n renoster) en geldwassery verskyn.
Die Gobabis-twee bly in aanhouding. Landdros Eden Iyambo het hul saak tot 15 September vir verdere ondersoek uitgestel.
Mnr. Marchell Hoeb het aangekla. Die beskuldigdes het sonder regsverteenwoordiging verskyn.
Die saak spruit uit die inhegtenisneming van agt verdagtes verlede week nadat twee swartrenosterkarkasse op 'n plaas in die Gobabis-distrik ontdek is.
Vier verdagtes is op Otjiwarongo vasgetrek terwyl hulle glo twee renosterhorings aan 'n geheime polisiebeampte probeer verkwansel het.
Dié vier het Donderdag in camera in die streekhof op dié Noorde-dorp verskyn en hul name mag nie gepubliseer word nie. Hulle is ook in aanhouding.
Die ander vier verdagtes is in die hoofstad in hegtenis geneem nadat twee renosterhorings, 'n ongelisensieerde jaggeweer en ammunisie volgens die polisie in Babi se huis op erf 454 in Rheintfonteintstraat in die Kleine Kuppe-woonbuurt in Windhoek gevind is.
Twee van die agt verdagtes is glo onderskeidelik 'n polisiebeampte verbonde aan die eenheid vir die beskerming van baie belangrike persone (BBP's) in Windhoek en 'n voormalige lid van die Namibiese weermag (NDF).
Babi en Dumeni het Vrydag hul eerste hofverskyning in die Windhoek-landdroshof gemaak.
Al agt verdagtes se sake sal glo later saamgevoeg en in die hoofstad verhoor word.
Mnr. Kadhila Amoomo verdedig vir Babi en mnr. Kalundu Kamwi vir Dumeni. Mnr. Rowan van Wyk verskyn vir die staat.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie