Pastoor Pauly is 102

Op die rype ouderdom van 50 het die bekende kerklike besef hy het sy roeping gemis en teologie begin studeer.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die bekende past. Peter Pauly, wat al met ’n meriete-orde deur die Duitse regering vir sy werk in Namibië vereer is, se 102de verjaardag is gister by die Altersheim op Otiwarongo gevier.

Pauly, wat eers op die laat ouderdom van 50 jaar teologie begin studeer het, was as pastoor van die Evangeliese Lutherse kerk een van die sterk stemme teen onderdrukkende apartheidswette in die vooronafhanklikheidstyd.

Hy is op 20 September 1917 in die provinsie Niederschlesien in Pruise gebore.

Sy pa was ’n Pruisiese artillerie-offisier met Joodse voorouers en sy ma, me. Melanie Schöneberg, was ’n buite-egtelike kind van graaf Tassilo Saurma-Jeltsch.

Peter was vir ’n offisiersloopbaan bestem en is na ’n topskool in Potsdam naby Berlyn gestuur, wat in 1933 in ’n Nazi Napola omskep is.

Vanweë sy Joodse voorsate moes hy daar padgee en is hy na ’n landbouskool toe.

In 1937 slaag hy daarin om na die voormalige Tanganjika (Tanzanië) te verhuis, waar hy op ’n koffieplantasie gewerk het.

As ’n boer van Duitse herkoms is Pauly aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog deur die Britse koloniale owerhede gevange geneem en na die interneringskampe Baviaanspoort en later na Andalusië in Suid-Afrika gestuur.

Hy is in 1947 ontslaan en moes na die besette Duitsland terugkeer.

Met die stigting van die Duitse Federale Republiek in 1949 het hy onder meer as tolk by die grondwetlike konvensie gewerk.

In 1950 het Pauly besluit om Duitsland te verlaat en het hy hom in Suidwes-Afrika kom vestig.

Deur op plase en in die mynbedryf te werk, het hy vir hom ’n lewe in die Otavi- en Tsumeb-omgewing geskep.

Hy is ook daar getroud.

Op die rype ouderdom van 50 het Pauly besef hy het sy roeping gemis en teologie begin studeer.

Hy is in 1975 ingeseën en het as pastoor in die destydse Ovamboland begin werk.

Hy is ook later vir ’n tweede keer daar getroud.

Hy het vyf kinders, 12 kleinkinders en 14 agter- en agteragterkleinkinders.

Me. Marianne Tegethoff (53), sy jongste dogter, sê haar pa was altyd lief vir stap.

“Hy het ook nooit groot maaltye geëet nie, maar eerder klein maaltye deur die dag. Hy was eintlik altyd lief vir peusel,” sê sy.

Sy vertel haar pa se verstand is nog helder, maar hy kan nie meer lank aaneen gesels en konsentreer nie, want hy word moeg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!