PDM-aansoek kom, maar eers later
PDM-aansoek kom, maar eers later

PDM-aansoek kom, maar eers later

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die hofaansoek waardeur die amptelike opposisie gehoop het hy sou die hoërhof al die afgelope Vrydag kon vra om die 99 jaar-huurooreenkoms met die Russiese grondbaron en die voorafgaande kooptransaksies van die plase ongeldig verklaar, sal die gewone mosiepad moet loop.

Mnr. Nico Smit van die Popular Democratic Movement (PDM) het gister aan joernaliste gesê hul regsverteenwoordiger, me. Elize Angula, van die firma Lorentz & Bone, het die party daarop gewys gronde vir dringendheid ontbreek.

Dit beteken die aansoek moet die hofreëls vir gewone mosies volg.

Hy sê wat wel beoog word, is om die hof vir ’n dringende interdik te vra wat mnr. Rashid Sardarov en sy maatskappy, Comsar SA, verbied om met enige ontwikkelings op die vier plase van sowat 17 400 ha voort te gaan hangende die uitkoms van die aansoek om die transaksie nietig te verklaar.

“As leke wou ons dadelik in die hof wees, maar sy het verduidelik die hof sal dit nie as dringend beskou nie,” het Smit gesê.

Hy sê dié party is egter oortuig daarvan hy het ’n sterk saak ingevolge die wet op die hervorming van landbougrond om die huurooreenkoms, die verkooptransaksie en die oordrag van die plase “uit die staanspoor uit” (ab initio) ongeldig te laat verklaar.

Die wet bepaal onder meer ’n buitelander mag nie landbougrond vir ’n tydperk langer as 10 jaar huur nie.

Die bom oor die transaksie wat beklink is 12 dae vóór die grondkonferensie begin het, het verlede week gebars toe Republikein daaroor berig het.

Smit het gister gesê “die vlak van korrupsie is eenvoudig ongelooflik” en het bygevoeg die PDM dring daarop aan om te weet wie almal by hierdie “skandaal” betrokke is.

“Dit is net ongelooflik om te dink iemand wat homself die seun van die nasie noem, het só iets gedoen,” het hy met na verwysing na mnr. Utoni Nujoma, die minister van grondhervorming, gesê.

“Hy (Nujoma) moet hangende die uitkoms van hierdie hofaansoek geskors word. Hy moet so vinnig as moontlik verwyder word,” was sy woorde.

“Hoe onnosel dink die arrogante minister is die Namibiese mense nou eintlik?” wou hy weet met verwysing na Nujoma se antwoorde tydens 'n onderhoud wat hy Vrydagmiddag by sy kantoor met joernaliste van die NBC gevoer het.

Daarin het hy ontken dat hy namens die regering dokumentasie in verband met die plaastransaksie onderteken het en aangevoer sy handtekening is vervals.

Volgens Smit open die transaksie ’n Pandora-kis van moontlikhede om toekomstige wetgewing te omseil wat uit die besluite van die grondkonferensie voortvloei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!