PDM bak mooi broodjies
Die amptelike opposisie voer allerlei planne in die mou sou hy aan bewind kom.
Denver Kisting
Geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie, 'n toilet vir elke gesin, die voltooiing van gesprekke rondom volksmoord en die verkleining van die kabinet tot 15 ministers en vier adjunkministers.
Die Popular Democratic Movement (PDM) sê as die meerheid stemgeregtigde Namibiërs op 27 November vir hom stem, sal die politieke gety onder meer op dié maniere draai.
Die party het verlede week onder leiding van sy president, mnr. McHenry Venaani, sy verkiesingsmanifes bekend gestel.
In dié dokument van by die 50 bladsye voer die PDM aan onder sy heerskappy sal die ondersoekende en vervolgingsgesag se kapasiteit versterk word.
Hy sal dít probeer regkry deur die aantal howe te vermeerder om misdaad in die algemeen en korrupsie spesifiek te pak, lui die manifes.
Deel van sy plan om die euwel van korrupsie te probeer hokslaan, sluit 'n onderneming in om die mandaat van teenkorrupsieinstellings, soos die Teenkorrupsiekommissie (ACC), meer vaartbelyn te maak om oorvleueling uit te skakel en bedryfsdoeltreffendheid te probeer verseker, sê die PDM.
Eerste party
Die amptelike opposisie het verlede week die eerste party geword om in aanloop tot November se presidensiële en Nasionale Vergadering (NV)-verkiesings sy verkiesingsmanifes bekend te stel.
Die PDM het onlangs op 'n nuuskonferensie in Windhoek aangekondig hy sal kragte saamspan met die United People's Movement (PDM), 'n kleiner party wat veral op Rehoboth steun geniet, om vir Swapo te laat les opsê. Meningsvormers was dit toe eens die kanse dat dié samewerking die regerende party in die stof sal laat byt, is skraal.
Die All People's Party (APP), 'n ander kleiner opposisieparty, het gister op Döbra aan die buitewyke van die hoofstad sy verkiesingsmanifes bekend gestel.
In sy plan, “Strategy Namibia: Agenda for Change and Transforming our nation”, sê die PDM hy gaan alles in die stryd werp om geplunderde staatsgeld en -bates terug te vind.
Dít kom nadat die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, vroeër onthul het die jare lange ondersoek na verdwene miljoene van die regering se pensioenfonds (GIPS) het min vrugte afgewerp.
Op die PDM se tafel is 'n verdere plan van leefstyloudits aan wie die party senior regeringslui en werknemers van staatsdiensondernemings (SOE's) wil onderwerp.
Die party, wat Saterdag sy verkiesingskollege gehou het, sê naas tronkstraf gaan hy politici wat aan omkopery en korrupsie skuldig bevind word, verbied om aan enige opvolgverkiesing deel te neem.
Dit blyk 'n hou in Swapo se rigting te wees.
Die regerende party het onlangs onder skoot gekom toe hy onder meer vir Tobie Aupindi en Katrina Hanse-Himarwa toegelaat het om aan sy kollege deel te neem. Aupindi, op sy dag die uitvoerende hoof van Namibia Wildlife Resorts (NWR), en Hanse-Himarwa, die eertydse minister van onderwys, kuns en kultuur, is albei aan korrupsie skuldig bevind.
'n Verkiesingskollege – of “pot” – het ten doel om 'n party se lys van kandidate vir die NV saam te stel.
Aupindi het goed gevaar by Swapo se pot wat die weg vir hom baan om in die parlement te beland.
Hanse-Himarwa het vanweë haar potprestasie 'n skraler kans om weer in die wetmakende liggaam van die land te dien.
Swapo het nog nie gesê wanneer hy sy verkiesingsbeloftesdokument openbaar gaan maak nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie