PDM lê Sona-eier
Denver Kisting
Mnr. McHenry Venaani, leier van die amptelike opposisie, beweer president Hage Geingob en sy binnekring woon in 'n ander land as die res van Namibië.
Venaani sê dít is die Popular Democratic Movement (PDM) se indruk van Geingob se oorsig van die land verlede week in sy staatsrede (Sona) in die Nasionale Vergadering (NV).
Die opposisieleier het die afgelope week gesê sý indruk is dat die land deur negatiwiteit omhul is.
Hy sê hy het verlede week baie hard probeer luister om vas te stel of Geingob die luim van en uitdagings wat Namibiërs daagliks in die gesig staar, sou saamvat. “Ek het gewag om hom te hoor erken dat ons midde-in 'n krisis is.”
Wat hom voorts grief, is dat die NV dikwels “hierdie baie belangrike diskoers” versmoor deur nie belangrike kwessies, wat tydens die staatsrede aan die lig kom, onder die loep te neem nie.
Dít het dié “ware staatsrede” van die PDM genoodsaak, sê Venaani.
Volgens hom het hy verlede week die indruk gekry president Geingob praat van twee verskillende lande.
“Daar is die Namibië wat bewoon word deur die president, sy gesin, sakevennote en 'n klein uitgelese groepie. Dan is daar die werklike Namibië wat deur die oorblywende 2,5 miljoen van ons bewoon word.”
Een van die mees beduidende uitdagings wat die land teister, hou volgens die amptelike opposie verband met die toestand van die onderwyssektor.
“Jong mense maak klaar met skool, verwerf kwalifikasies en is uiteindelik gefrustreerd omdat hulle geen vooruitsigte van 'n werk of 'n loopbaan het nie. Het die president geen bewyse van die omvang van afgestudeerde werkloosheid in dié land nie?”
Dít, sê hy, raak veral opgeleide onderwysers en verpleegsters.
Hy sê die ware toedrag van die land se ekonomie word deur hierdie werklikhede uitgebeeld.
“Ons het niks gehoor van die dapper en radikale maatreëls wat ten doel sou hê om ondernemings uit te brei, of wat nuwe besighede in die landboubedryf en ander bedrywe aan die hand sou vat om die honderde duisende werksgeleenthede te skep nie.”
'onvervulde beloftes'
Venaani het voorts gesê Geingob het die afgelope 12 maande homself bewys as 'n leier van vele onvervulde beloftes en doelwitte met min hoop om bereik te word.
“Duisende Namibiërs is steeds werkloos ondanks sy oorlog teen armoede wat wyd geprys word. Selfs meer mense het steeds geen ordentlike behuising nie en ten spyte van ondernemings van gedienste erwe en regeringsbehuisingskemas groei die ekonomie steeds nie.”
Desperate pogings om dié afwaartse neigings teen te werk, skiet liederlik te kort, sê Venaani.
Hoewel die president verlede jaar wéér belowe het om toe te sien dat onbevoegde ministers se gedrag aangespreek word, was daar geen daadwerklike optrede om onderpresterende ministers in die bek te ruk nie.
President Geingob hét egter twee ministers vroeër vanjaar afgedank – me. Pendukeni Iivula-Ithana, die minister van binnelandse sake en immigrasie, en die minister van sport, jeug en nasionale diens, mnr. Jerry Ekandjo.
Die verhoging van die maandelikse staatspensioen van bejaardes en die vestiging van die voedselbank word deur die PDM as geringe pogings uitgekryt.
Hulle eis 'n billike en regverdige minimumloon en 'n maandelikse toelaag vir die armstes in die gemeenskap, sê Venaani.
Geingob se woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, wou by navraag weet: “Wat is daar om op kommentaar te lewer?”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie