PDM skop kandidaat uit ná beweerde rassisme

Die amptelike opposisie sê hulle duld geen diskriminasie van enigiemand nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – Weke ná die amptelike opposisie kapsie gemaak het teen beweerde rassistiese uitlatings deur pres. Hage Geingob moes hulle een van hul eie lede in die bek ruk.

Trouens, die Popular Democratic Movement (PDM) het gisteroggend by monde van sy sekretaris-generaal (SG), mnr. Manuel Ngaringombe, gesê mnr. Hafeni Mafita is met onmiddellike effek uit die party geskop.

“Gevolglik, het die PDM ook vir mnr. Mafita onttrek as ’n partykandidaat vir die John Pandemi-kiesafdeling vir die komende streekraadsverkiesing.”

Dié aankondiging kom nadat Mafita in die sosiale media sy “haat vir alle wit mense” verklaar het.

“Die PDM wil dit onomwonde op rekord plaas dat ons geen gedrag duld wat daarop gemik is om enige Namibiër te viktimiseer gegrond op ras, etniese herkoms, geslag, geloofsoortuiging, ekonomiese status of seksuele oriëntasie,” sê Ngaringombe.

Die SG sê voorts die topleiers van die PDM het nadat die uitlatings op Facebook rugbaar geword het, vir Mufita ontbied, hom oor die vingers getik, daarop aangedring dat hy binne die daaropvolgende 12 ure in die openbaar om verskoning vra én voortaan nie “sulke gedrag ten toon stel nie”.

Volgens Ngaringombe het Mufita hom afgevee aan die versoek om ’n openbare verskoning.

Die eertydse kandidaat vir 25 November se verkiesing het glo volgens die SG die beweerde aanlyn rassisme voortgesit.

Dit het die PDM “met geen ander keuse gelaat nie” as om van hom ontslae te raak, sê Ngaringombe.

Mufita het gistermiddag by navraag oor die sage gesê: “Ek kan nie daarop kommentaar lewer nie, jammer.”

Geingob het onlangs tydens die bekendstelling van Swapo se verkiesingsveldtog in Windhoek onder meer gesê: “Ons het gesien wit mense wat in groot getalle registreer. Ek het dít nog nooit so gesien nie. En hulle’t gesê: ‘Enigiets behalwe Swapo.’ Ek het daarvan kennis geneem en ek sal dit nie vergeet nie.

“Mense wat oorlog verklaar teen Swapo – Swapo wat gesorg het dat hulle vrede en eenheid geniet; gemak geniet (wat) oorlog verklaar teen Swapo. Ek het julle gehoor.”

Hieroor het die PDM ’n klag by die ombudsman, adv. John Walters, ingedien. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!