PDM skree moord oor Arandis-tragedie
Denver Kisting – Die Popular Democratic Movement (PDM) sê Namibiërs sal nooit vrede smaak as hulle aanhoudend deur geweldsmisdade geteister word nie.
Die president van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê die PDM neem met toenemende weersin kennis van die oënskynlik eindelose geweldsmisdade – veral moorde en verkragtings waarvan gewone Namibiërs ten prooi val.
Venaani sluit aan by die koor van gewalgde kritici teen Maandagoggend se bloedbad op Arandis waartydens die uitvoerende direkteur van die Namibië Instituut van Mynbou en Tegnologie (Nimt), mnr. Eckhart Mueller (72), omgekom het.
Sy adjunk, mnr. Heimo Hellwig (60), is ook tydens die treurspel koelbloedig doodgeskiet.
Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, die hoof van die polisie se skakelafdeling, het gistermiddag gesê verskeie mense is reeds weens die dubbele moord ondervra.
Maar, sê hy, daar is nog geen sprake van ’n deurbraak nie.
Agt leë patroondoppies is Maandagoggend op die toneel gevind. Mueller en Hellwig het weens kop- en maagwonde op die toneel beswyk.
Venaani het gisteroggend gesê dié tipe misdade was tydens die begin van demokratiese Namibië ’n seldsame verskynsel.
Deesdae blyk dit aan die orde van die dag te wees, sê hy. Namibiese gesinne word dikwels tydens dié slagtings van hul broodwinners en geliefdes beroof, het hy uitgevaar.
Venaani het terselfdertyd gesê hulle kom agter talle hoëprofielmisdade is onopgelos.
Onder meer, sê hy, is die geweldenaar(s) wat die negejarige Avihe Cheryl Ujaha in Julie verlede jaar grusaam vermoor en haar lyk opgekap het, steeds nie opgespoor nie.
Eweneens bly dit ’n tergende raaisel wie in Februarie 2016 vir mnr. Marius Mostert op die Kupferbergpad om die lewe gebring het, sê hy.
Die Windhoekse skoolmeisie Magdalena Stoffels se verkragting en moord byna nege jaar gelede hang ook steeds in die lug, sê Venaani.
Die opposisieleier trek ook te velde teen die beweerde weerhouding van saamgestelde en bygewerkte jaarlikse misdaadstatistiek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie