PDM steek skadukabinet aan die werk
PDM steek skadukabinet aan die werk

PDM steek skadukabinet aan die werk

Denver Kisting
Denver Kisting – Mnr. McHenry Venaani, leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), het gister die party se skadukabinet aangekondig.

Volgens hom gaan hy en dié 15 mense onmiddellik aan die werk spring voor hulle volgende jaar in Maart as LP’s ingesweer word.

Elkeen van die 15 onder hom, insluitend PDM-visepresident eerw. Jennifer van den Heever, het ’n portefeulje gekry.

Van den Heever is die PDM se premier en moet ’n oog op alle werksaamhede van die Swapo-geleide regering hou.

Die PDM se tesourier-generaal, mnr. Nico Smit, is die opposisie se skaduminister van finansies en ekonomiese beplanning.

Mnr. Jan van Wyk, visepresident van die United People’s Movement (UPM), moet ’n oog op werke, vervoer en mynbou en energie hou.

Me. Celeste Becker, die UPM se sekretaris-generaal, sal gemoeid wees met inligting en navorsing.

Die PDM en die UPM het saam onder die vaandel van die PDM aan verlede week se verkiesings deelgemeen met Venaani as hul presidensiële kandidaat.

Hulle het 16 setels op hulle verenig – op van 6 tydens die 2014-verkiesings.

Venaani het gister sy skadukabinetslede aangemoedig om dadelik met navorsing oor hul onderskeie portefeuljes weg te spring.

Hy het ook gesê gerugte dat hulle aan hul NV-lys gepeuter het, is onwaar. Trouens, sê hy, hulle volg hul oorspronklike lys getrou.

Oor beweringe dat ’n familielid van hom by korrupsie binne die massabehuisingskema betrokke was, het Venaani gesê hy het uit die staanspoor gesê tenderpreneurs trek die grootste voordeel uit dié skema.

Maar, het hy gesê, die betrokke familielid is nog nooit weens korrupsie aangekla nie.

Ook, sê Venaani, indien dié persoon korrup was, kan hy wat Venaani is nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer