PDM vaar uit oor uitslae
PDM vaar uit oor uitslae

PDM vaar uit oor uitslae

Die amptelike opposisie reken verlede week se gr. 12-uitslae bevestig “ons onderwysstelsel is op die verkeerde pad”.
Denver Kisting
Denver Kisting – Teen die huidige tempo is die land op pad na ongeletterheid, meen die Popular Democratic Movement (PDM).

In ’n sterk bewoorde verklaring sê die amptelike opposisie verlede week se gr. 12-uitslae toon die land se onderwysstelsel is die pad byster.

Mnr. Nico Smit, die PDM se tesourier-generaal, sê: “Terwyl die PDM sy gelukwensinge oordra aan die leerlinge wat goed gevaar het in hierdie jaar se hoërvlak-eksamen, is die beweging diep ontsteld en hartseer weens die onlangs vrygestelde eksamenuitslae wat weer eens getoon het ons onderwysstelsel is op die verkeerde pad.”

Smit skryf die mening toe aan die “beduidende afname in die aantal leerlinge wat daarin geslaag het om ’n 3-gradering en beter te behaal wat hulle in staat sal stel om aan ’n tersiêre instelling te studeer”.

Hy het ook te velde getrek teen die manier hoe die uitslae aan die publiek bekend gemaak is. “Dit is onduidelik uit die mediaberigte hoeveel leerlinge het die vereiste aantal punte behaal om aan ’n Namibiese universiteit te studeer.”

Eweneens is dit onduidelik hoeveel leerlinge het aan die vereistes vir ’n eerste taal voldoen “wat gewoonlik deur ’n universiteit buite Namibië vereis word”, braak Smit voorts gal. “Net Namibiese instellings is bereid om studente met ’n ‘E’ in Engels te aanvaar – ondanks die feit dat dit die taal is waarin hulle verwag word om in al hul vakke te studeer!” sê Smit.

Hy sê die taalvaardighede van veral laerskoolonderwysers, wat leerlinge se fondament in die land se amptelike taal moet lê, is geensins waffers nie.

Smit het die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, van blaamverskuiwing beskuldig.

Tot die regering – spesifiek die onderwysministerie – nie besef die enigste manier om die stelsel te herstel, is deur junior laerskoolonderwysers beter op te lei nie, stuur die land op ongeletterdheid af, sê hy.

Die waarmenende minister van onderwys, kuns en kultuur, amb. Martin Andjaba, het gister by navraag gesê hy is reeds met vakansie en verkies om nie in dié stadium kommentaar te lewer nie.

Die uitvoerende direkteur, me. Sanet Steenkamp, het op haar beurt gesê hulle sal in Januarie tydens die gewonevlakuitslae se bekendstelling op Smit se uitsprake reageer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer