Pelserverbod kry hengel aan die hoek
Pelserverbod kry hengel aan die hoek

Pelserverbod kry hengel aan die hoek

Des Erasmus
Des Erasmus - Die moratorium van drie jaar op die vang van pelsers in die Namibiese seegebied het hier te lande vir hengelaars soos ‘n hou in die maag gevoel. Pelsers is die voorkeuraas vir eetbare spesies soos veral kabeljou op Namibiese strande.

Die verbod op pelservangste is verlede week deur die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Tjekero Tweya, as ‘n kabinetsbesluit van 6 Desember bekend gemaak. Die besluit is op aanbeveling van die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, geneem.

Dié ingrypende stap is ter beskerming van die pelserbron gedoen.

Republikein het met twee belanghebbendes op die gebied van hengel, mnr. Danie du Toit van die Namibiese hengelunie, en mnr. Leon Krauze namens hengelaars en die handel met hengelgerei, oor die ingrypende stap gesels.

Albei is dit eens dat die Namibiese visbron tot elke prys beskerm moet word.

Namibiese pelsers is in die verlede as deel van ‘n piepklein kwota deur van die fabrieke op Walvisbaai verpak en verkoop aan winkels wat aas verskaf.

Juis die afname in die pelserbron het hengelwinkels die afgelope jare toenemend aankope in Suid-Afrika laat doen, maar dit is bekend dat kommer ook oor ‘n afname in pelsers in die buurland bestaan. Dit is bekend dat Namibiese handelaars met aas al langs die weskus van Suid-Afrika op bote gewag het om met pelsers in te kom. Groot voorrade aas word ook in Port Elizabeth deur Namibiërs gekoop.

Volgens Du Toit het juis die vraag na en beskikbaarheid van pelsers tot skerp prysstygings gelei. Hy het as voorbeeld genoem pelsers in verpakkings van 10 van die vissies in ‘n karton het in sekere dele van die handel tot so hoog as N$54 per houer gestyg. Dit verteenwoordig ‘n prys van sowat N$5 per enkele pelser.

Teen dié hoër pryse gaan dit meebring dat teen ‘n sluikhandel met die aassoort gewaak sal moet word.

Hy is bewus van pelseraankope wat in lande soos Marokko gedoen word. Maar dit is ‘n minderwaardige produk teenoor die Namibiese vissies wat as een van hengelaars se beste bondgenote bekend is.

Die pelsers van Marokko word in bevrore blokke ingevoer en word dan op Walvisbaai verpak nadat dit ontdooi het. Hy sê die gehalte is nie naastenby dieselfde as dié van die Namibiese produk nie.

Wanneer die ingevoerde pelsers gebruik word, is die pelsers dikwels pap en gaan die vel sommer af wanneer dit aan die hoeke gesit word.

Hy en Krauze is dit eens dat die pelserprobleem bykomend tot ‘n rewolusie in strandhengel kom. Dit kom in ‘n stadium waar van tradisionele vangmetodes afgewyk word met vleglyn op koffiemeulkatrolle wat oral oorneem, maar teen ‘n prys.

Krauze was veral bekommerd oor die honderde mense wat weens die moratorium hul werk op Walvisbaai kan verloor.

Volgens die kampioenhengelaar in die afgelope toetsreeks teen Suid-Afrika kom die ingevoerde pelsers op die gebied van gehalte nie naby die Namibiese produk nie.

“Elke keer wanneer ‘n pap pelser met die ingooislag van die hoek losruk, is dit byna N$5 wat in die see gegooi word,” sê Krauze.

Hierteenoor is die Namibiese produk vars en van ‘n beter gehalte.

Volgens hom is die winsmarge op pelsers in die handel gering weens die strawwe kompetisie.

Al word pelsers teen billiker pryse in Suid-Afrika gekoop, word die prys hier te lande deur heffings en vervoerkoste opgejaag.

Pelsers is by uitstek kabeljoukos, hoewel dit soms saam met ander soorte gebruik word. Steenbrasse word ook met pelseraas of kombinasies van pelsers en ander aassoorte gevang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!