Penduka se spesiale blom
Byna 30 jaar ná sy Penduka vir vroue soos sy begin het, is Martha Muulyau een van 10 mense wat benoem is vir die verskil wat hulle in hul gemeenskappe maak.
Henriette Lamprecht – Sy onthou die laaste dag wat sy kon loop.
Sy was vier jaar oud, vertel Penduka se “spesiale blom” en medestigter, Martha Muulyau, toe sy in die middel van die nag badkamer toe moes gaan en haar bene eenvoudig nie wou saamwerk nie.
Penduka is ’n gemeenskapsorganisasie wat in Windhoek gebaseer is en in 1992 gestig is om minderbevoorregte vroue met gestremdhede te bemagtig.
Op pad hospitaal toe om uit te vind wat fout is, het Martha se familie destyds by ’n tradisionele geneser aangedoen wat ’n mengsel van bloed uit snye onder haar knieë, water en haar hare gemaak het.
Teen die tyd wat haar familie haar by die hospitaal gehad het, was Martha in ’n koma.
Maande later, toe sy uit die koma ontwaak, kon sy nie praat nie, sê sy.
“Ek kon net huil.”
Martha is in die sorg van haar tannie geplaas wat haar na nog ’n tradisionele geneser geneem het.
Dié geneser het ’n gat gegrawe, Martha elke dag hierin gesit en haar tot by haar middel met sand bedek.
“Twee keer per dag het sy my bietjie vir bietjie opgelig sodat ek geweet het hoe dit voel om regop te staan. Ek het begin om te rol, kruip en sit en mettertyd het ek gestaan terwyl ek aan meubels vashou. Ek het begin stap deur te buig, aan my linkerenkel vas te hou om dit vorentoe te trek en dan weer die regtervoet vorentoe te trek,” sê Martha.
Haar tannie het vir haar krukke uit stokke gemaak en wanneer Martha vir hulp vra, was haar tannie se antwoord sy moet “self leer”.
“My ma het vir my gesê elke blom is anders. Daar was ander kinders soos ek, maar hulle is weggesteek. My ma het my kerk toe gevat en vir almal haar ‘spesiale blom’ gewys!”
Martha het haar skoolloopbaan voltooi en moes verskeie pynlike operasies ondergaan om haar rug reguit te maak en haar ribbes en heupe te herbelyn. Ná die operasies moes sy van voor af leer sit en loop. Martha het ook ’n pasaangeër gekry.
Sy het werk by Ehafo gekry, ’n projek in Windhoek wat gestremdes ondersteun.
Dit was hier waar sy Penduka se medestigter, Christien Roos, ontmoet het.
Christien het ná haar studies in Nederland vir Ehafo begin werk en in 1992 het haar en Martha se droom ’n werklikheid geword.
Hulle het Penduka, wat “word wakker!” in Oshiwambo beteken, begin om minderbevoorregte vroue te help om hul lewenstandaarde te verbeter, maar ook vir hul uitgebreide familie en onmiddellike omgewing.
Vandag is Martha ’n onderwyser en help sy Penduka-groepe in die Noorde.
“Ons het hier reeds baie bereik, soos die speelgrond en die skool wat ons vir die kinders in Omishe gebou het. Tog is daar nog baie wat gedoen moet word,” erken sy.
Sy sou graag die oumense wou help wat “Owamboland nog nooit verlaat het nie” en op hul eie is omdat hul kinders en kleinkinders vir werk na ander dorpe getrek het.
“Ek ondersteun ook my uitgebreide familie met die geld wat ek verdien en met kos en skoolfooie.”
Martha is onlangs deur Pijler – Burgerinitiatieven voor Ontwikkelingssamenwerking benoem vir die verskil wat sy in haar gemeenskap maak, en die publiek kan ter ondersteuning vir haar stem.
KASSIE/PENDUKA
Penduka versinnebeeld om beheer van jou eie toekoms te neem en in jou eie krag te glo. Dit moedig vroue wat met ’n fisieke gestremdheid of maatskaplike agterstand leef om hul storie te vertel en saam produkte te vervaardig wat verkoop kan word.
Dit verskaf werk aan sowat 660 vroue waarvan 110 op permanente kontrak-basis en 550 as sogenaamde lede vir die organisasie werk.
Die projek ondersteun byna 1 000 tuberkulose-pasiënte in 19 klinieke.
Dit lei vroue op in kunsvlyt en ontwerp en ook bestuursvaardighede.
*Om vir Martha te stem, gaan na die webtuiste van Pijler – Burgerinitiatieven voor Ontwikkelingssamenwerking en kliek op die tien genomineerdes vir #Changemakers by https://4depijler.be/4de-pijler/

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie