Pensioenaris in haar bed vermoor
Pensioenaris in haar bed vermoor

Pensioenaris in haar bed vermoor

Kristien Kruger
Kristien Kruger – 'n Vier-en-sestigjarige vrou is Maandagaand in haar huis op Gobabis vermoor.

Volgens die Omahekestreek se koördineerder van misdaadondersoeke, adj.komm. Chris Kalimbula, was me. Magdalena Alleta van Zyl, alombekend as Dalene, reeds in die bed toe twee verdagtes 'n vensterraam verwyder en toegang tot haar huis verkry het.

“Ons vermoed die verdagtes het haar met 'n onbekende voorwerp oor die kop geslaan. Die hou was so hard dat sy in haar bed gesterf het,” het Kalimbula gesê.

Volgens hom het die voorval tussen Maandag om 18:00 en Dinsdag om 08:00 plaasgevind.

Volgens 'n familielid van die oorledene, mnr. Francois van Schalkwyk, het die huishulp Dinsdagoggend vir mnr. Marius (Bekkies) Marais gebel.

Aangesien die huis steeds gesluit was, moes Marais deur dieselfde venster klim waardeur die ­inbrekers die huis binnegekom het. Hy het op die lyk afgekom en die polisie gebel.

Kalimbula het bevestig die oorledene se selfoon en juwele is tydens die inbraak gebuit, maar haar beursie was steeds in die huis.

Volgens Van Schalkwyk het Van Zyl alleen in haar huis in Klaradynstraat gewoon.

Van Zyl se liggaam is gister vir Covid-19 getoets en indien sy negatief toets, sal die nadoodse ondersoek vandag plaasvind.

Die verdagtes is steeds op vrye voet.

[email protected]

FOTO
Wyle me. Magdalena Alleta van Zyl. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer