Pensioenarisse in stormloop op Walvis

NamPost doen 'n beroep op bejaardes om nie almal op betaaldag hul pensioen af te haal nie.
Leandrea Louw
Francoise Steynberg en Leandrea Louw - Die NamPost-poskantoor op Walvisbaai is gisteroggend oorweldig toe honderde bejaardes hul pensioenbetalings van die Suid-Afrikaanse maatskaplike voorsorgagentskap (Sassa) wou ontvang.

Nadat sommiges glo al so vroeg as vyfuur begin toustaan het, was daar in 'n stadium tot soveel as 150 bejaardes in die tou.

“Die toeloop het as 'n verrassing vir NamPost gekom en ons was nie voorbereid nie,” het mnr. Wilson Shikoto, bestuurder van korporatiewe kommunikasie, gister aan Republikein erken.

Die situasie is gou onder beheer gebring toe hulp van die owerhede ingeroep is. Lede van die brandweer het die fisieke afstande gehelp handhaaf.

“Ons verwag dieselfde gaan volgende week gebeur wanneer Namibiese pensioenarisse hul toelae ontvang, maar ons wil hulle vriendelik versoek om by die maatreëls te hou.”

Pensioenarisse wat hul pensioen deur Nampost ontvang, ontvang dit gewoonlik op die eerste Dinsdag van 'n maand, dus op 7 April vandeesmaand.

NamPost se deure bly tydens die inperking oop, maar beperkinge is van krag op die getal kliënte wat op enige gegewe tyd binne die poskantore toegelaat word.

“In reaksie op die bevestigde Covid-19-gevalle en opdragte van die president en regering, het NamPost voorkomende maatreëls ingestel as deel van sy algehele aksieplan om die gesondheid van die personeel en kliënte landswyd te beskerm,” sê Shikoto.

“Pensioenarisse word hiermee herinner dat hul geld die hele maand by die poskantore beskikbaar bly en almal hoef nie op betaaldag te kom nie,” sê Shikoto.

Diegene wat 'n VISA Smart Card het, word aangeraai om die kaart vir aankope by enige winkel te gebruik.

“Pensioenarisse en ontvangers van toelae word ook versoek om nie nadat hulle hul geld by die poskantore ontvang het, te vergader nie.

“As deel van NamPost se voorkomende maatreëls sal beperkings geld op die getal kliënte wat by poskantore ingelaat word, volgens die uitleg en grootte.”

NamPost versoek sy kliënte om 'n persoonlike afstand van minstens een meter te behou soos die regulasies van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste bepaal.

Almal wat poskantore ingaan, sal hul hande was of met handwasmiddel reinig, anders sal toegang geweier word.

“Ons versoek ook dat jy nie die poskantoor besoek as jy siek is of simptome van die Covid-19-virus toon nie,” vra Shikoto.

Hy bevestig ook dat daar 'n vertraging met alle inkomende en uitkomende pos en pakkies plaaslik en internasionaal sal wees.

“Alle NamPost-takke sal oop bly, maar ons moedig al ons kliënte aan om die maatreëls te gehoorsaam om die verspreiding van die Covid-19-virus te voorkom.”



OUETEHUISE

Die Katutura-ouetehuis het gister aan Republikein gesê sy inwoners is ingeperk. Almal met NamPost Smart Cards sal ook nie op een slag poskantoor toe gaan nie, maar hulle word sporadies geneem.

Susanne Grau Heim in die hoofstad se inwoners is ook ingeperk, maar die meeste ontvang hul pensioen via hul bankrekeninge. Andersins het hulle met hul kinders gereël om hul pensioen by die poskantoor af te haal.

Shikoto het 'n beroep op kinders van bejaardes gedoen om vooraf met NamPost vir toestemming te reël om hul ouers se pensioen af te haal.

- [email protected]

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!