Pensioene: ANC-plan is eenvoudig diefstal – DA
Die beleidsvoorstel is dat pensioenfondse gedwing word om ’n sekere persentasie van hul geld in sekere staatsbates te belê om ontwikkelingsdoelwitte en transformasie te bevorder.
Francois Williams – Pensioendiefstal! Dis wat dit is, het Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, Dinsdag in die parlement uitgevaar in die debat oor die ANC se voorgestelde beleid oor voorgeskrewe bates.
Om van mense se toekomstige pensioene te steel, is steeds diefstal. Die regering hoef nie eens enige wet te verander om voorgeskrewe bates in te stel nie, net ’n regulasie kan verander word, het Hill-Lewis gewaarsku.
Die beleidsvoorstel is dat pensioenfondse gedwing word om ’n sekere persentasie van hul geld in sekere staatsbates te belê om ontwikkelingsdoelwitte en transformasie te bevorder.
As die ANC die beleid opdwing, sal die DA privatelede-wetgewing indien om mense toe te laat om hul pensioengeld te onttrek voordat hulle aftree sodat hulle dit op hul eie kan belê.
Hill-Lewis meen verpleegsters, onderwysers en polisiebeamptes moet hulle agter die DA skaar om dié beoogde beleid van die ANC teen te staan.
Hy het gevra waar die vakbonde staan oor die beleid.
“Die ANC is nie ’n roekelose regering nie,” het Phoebe Abraham, ANC-lid, in reaksie gesê.
Abraham het gesê dis waar dat voorgeskrewe bates nie ’n nuwe kwessie is nie. Die wet skryf reeds voor waar die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) van sy geld moet belê, het sy verduidelik.
Die apartheidsregering het voorgeskrewe bates ingestel om ekonomiese groei aan te por toe hy onder sanksies gely het. Dit het baie ondernemings gehelp om ’n groot rol in die ekonomie te speel, soos die spoorweë en Denel se voorganger, Krygkor.
Dit het gehelp om goeie byvoordele aan werknemers te bied, het Abraham gesê.
Al was die opbrengs van die destydse voorgeskrewe bates net tot ’n klein groepie beperk, was dit tot voordeel van die breë ekonomie.
Abraham het voorbeelde genoem van die OBK se beleggings in staatsprojekte wat tot voordeel van die staatspensioenfonds (GEPF) is. Die GEPF belê byvoorbeeld in behuisingsprojekte.
Volgens Abraham “wil die DA ons oortuig van die neoliberale ideologie wat nie van toepassing is op Suid-Afrika se uitdagings nie”.
Sy voer aan die meeste Suid-Afrikaners sal die ANC se beleid oor voorgeskrewe bates aanvaar, want die meeste van hulle het vir die ANC gestem.
Hill-Lewis sê ’n ruwe berekening wys as die regering net 3% van pensioenfondsgeld “vat”, sal ’n 35-jarige Suid-Afrikaner wat R2 000 per maand in sy pensioen spaar tot met aftrede, sowat R1,4 miljoen minder hê om mee af te tree.
Floyd Shivambu van die EFF sê die OBK se prestasie is beter as dié van private batebestuurders, maar het R20 miljard verloor deur in Steinhoff te belê. Shivambu steun die idee van voorgeskrewe bates, maar meen die regering moet duideliker en meer eksplisiet wees daaroor.
Hy stel voor alle munisipale pensioenfondse behoort saam te smelt in ’n enkele fonds wat in munisipale infrastruktuurbeleggings moet belê. Alle pensioenfondse behoort gedwing te word om 30% van hul geld in werkskeppende projekte te belê, want die JSE bied nie goeie opbrengste nie.
Die OBK behoort aandele in staatsondernemings soos Eskom en Transnet te besit, meen Shivambu.
Volgens hom is die DA net besig met “sensasie”, want regulasie 28 van die Pensioenfondswet behels reeds voorgeskrewe bates. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie