Pensioenuitbetaling begin vandag
Pensioenuitbetaling begin vandag

Pensioenuitbetaling begin vandag

Tot ’n vyfde van Namibiese huisgesinne is afhanklik van pensioentoelaes.
Augetto Graig
Augetto Graig – Epupa Investments begin vandag hul maandelikse uitbetalings van pensioentoelaes, ongeskiktheidstoelaes en die begrafnisvoordele aan begunstigdes by 12 punte in die hoofstad.

Teen volgende week sal dorpe oraloor die land besoek word om dié toelaes uit te betaal.

Die maatskappy versprei al die laaste tien jaar pensioene en ander toelaes namens die regering, en volgens mnr. Kasikile Kambiri, die maatskappy se hoof van finansies en bydrywighede, sal dienslewering aan die 35 000 bykomende begunstigdes vanaf Nampost, nie hul verpligtinge beïnvloed nie.

Begunstigdes kan nie meer sedert September direk kontant by poskantore sonder Nampost-bankkaarte en -rekeninge onttrek nie.

Kambiri sê die bykomende aantal begunstigdes is ’n druppel in die emmer in vergelyking met die meer as 200 000 begunstigdes wat Epupa reeds bedien.

Die uitvoerende direkteur van die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, me. Esther Lusepani, het verlede week aangekondig die verantwoordelikheid vir hierdie toelaes word na streekrade oorgeplaas.

Die ministerie is in beheer van dié toelaes sedert Maart 2020 toe vorige ministeries saamgesmelt het.

Sy sê amper ’n vyfde van alle Namibiese huisgesinne is afhanklik van pensioentoelaes.

Volgens die ministerie bestaan meer as die helfde van Namibiese huisgesinne uit uitgebreide families en sowat 10% sluit in lede wat nie familie is nie.

“Grootouers sorg soms vir kinders wie se ouers werk, vigs het of dood is, en dikwels gebruik hulle hul staatspensioen om vir die kinders se opvoeding te betaal. Die samestelling van die landelike Namibië dui ook aan die oorgrote meerderheid van gesinne is dikwels meer as vyf gesinslede, met slegs een broodwinner. Na raming is byna ’n vyfde van alle gesinne afhanklik van staatspensioene as die enigste bron van inkomste,” sê sy.

Sy sê dit is “om te verseker mense geniet makliker toegang tot dienste in hul plaaslike omgewing, en dat die ministerie hiermee sy maatskaplike welsynsfunksies desentraliseer, wat bestaan uit die voorsiening van pensioentoelaes, ongeskiktheidstoelaes en begrafnisvoordele,” het sy gesê.

Die regering se desentraliseringsbeleid eis die versterking van streek- en plaaslike owerhede deur die oordrag van magte.

Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het verlede week navorsing bekend gemaak wat dui dat desentralisering nie behoorlik toegepas word nie.

Me. Kitty Mcgirr, ’n navorser, sê die beleid word nie konsekwent toegepas nie, veral deur lynministeries, wat streekrade met meer administratiewe verantwoordelikhede los, maar sonder hulpbronne of gesag om hul pligte effektief te kan uitvoer.

Al is streekraadslede nader aan hul kiesers – omdat hulle direk verkies word – is dit van minder belang solank streekrade nie die mag gegee word om hul gemeenskappe te verbeter nie, sê sy.

Die woordvoerder van die ministerie, mnr. Lukas Haufiku, het uitgebrei “wanneer daar van desentralisering gepraat word, verwys dit na die administrasie. Die werklike begroting bly by die ministerie.

Die geld word vanaf die ministerie na die betaalmeester oorbetaal, óf die betrokke bank, óf Nampost, óf Epupa,” het hy gesê.

Kambiri sê Epupa het reeds sowat N$20 miljard oor die laaste tien jaar versprei sonder om ’n sent van die regering se geld te verloor.

Hy sê Epupa is soos ’n mobiele bank wat geld tot by begunstigdes bring, sonder ekstra onkoste, en sodoende landelike ekonomieë ’n hupstoot kan gee.

In term van die impak van desentralisering sê hy die regering sal die maatskappy inlig soos nodig, aangesien Epupa deur die regering aangestel is. “Ek verwag dinge sal basies dieselfde bly,” sê hy.

Oor die chaos verlede maand by die verspreiding van pensioene op Keetmanshoop, sê Kambiri dit was weens wankommunikasie tussen die ministerie en die dorpsraad. Daar het glo verwarring ontstaan oor die perseel waar die geld uitbetaal sou word.

Die probleem is opgelos deur die toekenning van ’n saal op die dorp waar begunstigdes volgende Woensdag hul uitbetaling sal ontvang, sê hy.

Uitstaande uitbetalings vir Augustus en September kan nog dié maand opgeëis word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer