Pepsi su00ea nee vir dagga
Pepsi su00ea nee vir dagga

Pepsi sê nee vir dagga

PepsiCo, wat handelsname soos Pepsi en Lays besit, gaan nie produkte van dagga maak nie.

Dit lyk of sy beleggers teleurgesteld is in dié aankondiging.

PepsiCo se aandele het Dinsdag met bykans 1,5% tot $109,20 op die Nasdaq in New York geval nadat Hugh Johnston, finansiële hoof van PepsiCo, gesê het hulle het geen planne om na daggaprodukte te kyk nie.

Johnston het beleggers se vrae beantwoord nadat hy die maatskappy se syfers vir die derde kwartaal van die jaar bekendgemaak het.

“Dit is billik om te sê ons oorweeg alles, maar ons het definitief nie nou planne om enigiets te doen nie,” sê hy.

Johnston is later ook gedurende ’n onderhoud op CNBC gevra wat die maatskappy se planne vir dagga is. Hy het geantwoord dat Pepsi “krities” daarna sal kyk.

Dagga is reeds wettig in verskeie Amerikaanse deelstate. Kanada oorweeg ook tans wetgewing daaroor.

Die voedsel-en-drankbedryf oorweeg tans of en hoe hy dié produk kan gebruik.

Groot maatskappye soos Molson Coors Brewing en Constellation Brands het reeds daarin belê.

Coca-Cola het onlangs gesê hy ondersoek die moontlikheid om cannabidiol, oftewel CBD, in van sy drankies te gebruik.

Dié olie bedwelm nie gebruikers nie.

Die konstitusionele hof het onlangs bevind die kweek vir en private gebruik van dagga moet in Suid-Afrika gewettig word. Dwelmwetgewing moet nou herskryf word om dié uitspraak in ag te neem.

– Bloomberg, verwerk/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer